AfriForum loods landswye #Skoonwater-projek


AfriForum het gister dié organisasie se #Skoonwater-projek vir 2018 by die Baviaanspoort-afvalwaterbehandelingswerke geloods. Takke regoor die land is ook gemobiliseer om die drink- en rioolwatergehalte te toets in dorpe waar daar aktiewe AfriForum-takke is.

“Die regering is nie ernstig is oor die gesondheid van Suid-Afrikaners nie. Dit is duidelik te bespeur uit die feit dat die departement van water en sanitasie (DWS) bankrot is en ’n parlementêre ondersoek weens voormalige minister Nomvula Mokonyane se wanbestuur in die gesig staar. Onder haar leiding is die laaste amptelike Blou- en Groendruppelverslag ses jaar laas gepubliseer. Die ANC-regering probeer hul onbevoegdheid wegsteek deur inligting van die publiek en selfs die parlement te weerhou, terwyl gewone mense daagliks onder dié waterkrisis gebuk gaan. Ons kan nie langer op die staat vertrou om veilige water te verskaf nie, en daarom toets ons watergehalte self,” sê Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum.

Die burgerregte waghond het met sy blou-en-groendruppelprojek in 2017 verseker dat bykans 10 miljoen mense se drinkwatergehalte op standaard is deur 156 dorpe se water te toets.

“AfriForum sal verseker dat enige besoedeling so gou moontlik opgelos word deur ’n aanmaning aan die betrokke munisipaliteit te stuur wat eis dat die probleem binne 48 uur reggestel word,” sê Pawson.

AfriForum gaan verder ’n amptelike skrywe stuur aan Gugile Nkwinti, nuwe minister van water en sanitasie. Dié skrywe sal onder meer eis dat –

  1. die DWS weer jaarliks die amptelike Blou- en Groendruppelverslag sal publiseer om die land se watergehalte en die bestuur daarvan te belig;
  2. daar in 2018/2019 vir die herstel van alle afvalwaterbehandelingsaanlegte begroot sal word;
  3. ’n program geloods sal word om waterbesoedelaars aanspreeklik te hou (die regering is die grootste besoedelaar: 4 200 megaliter riool wat nie aan toepaslike gesondheidstandaarde voldoen nie word daagliks in riviere en damme gestort);
  4. daar in 2018/2019 vir die herstel van waterinfrastruktuur in die DWS se oorlog-teen-waterlekke-projek begroot word (munisipaliteite verloor meer as 40% van hul drinkwater weens lekkende waterpype);
  5. Suid-Afrikaners onmiddellik aangestel word wat bevoeg is om die land se waterstelsels te bestuur;
  6. die huidige organogram en struktuur van die DWS hersien word om oortollige poste uit te wys en te skrap, en leë poste te vul;
  7. daar ontslae geraak word van onbevoegde amptenare en dié wat ’n geskiedenis van korrupte verhoudings het; en
  8. alle afgehandelde ondersoeke van die DWS deur die Spesiale Ondersoekeenheid en onafhanklike konsultasiefirmas bekend gemaak word om deursigtige prosesse te verseker.

As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige party is nie. AfriForum is van mening dat ’n onafhanklike waterreguleerder steeds ’n betekenisvolle rol in Suid-Afrika kan speel om watergehalte, -voorsiening en -bestuur te verbeter.

“Indien Suid-Afrika ’n onafhanklike waterreguleerder het wat nie vir politieke inmenging vatbaar is nie en water- en dienstewetgewing kan afdwing, sou ons minder lekkasies, openbare klagtes en protes, skoner riviere en damme, gesonder gemeenskappe, ’n groeiende ekonomie en meer water gehad het,” sê Pawson.

Is jou water skoon? SMS die naam van jou dorp na 45354 en gee AfriForum die mandaat om die gehalte van jou dorp se water te toets. Elke SMS kos R1.

Soortgelyke plasings