| | | |

AfriForum-konferensie bied regsekerheid aan boere

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n konferensie aangebied in Pretoria met die doel om meer regsekerheid vir boere te skep rakende verskeie uitdagings waarmee landelike bewoners in Suid-Afrika in die gesig gestaar word.

Dit raak daagliks ’n groter uitdaging om in Suid-Afrika te boer en in landelike omgewings te woon.

Boere moet hulle ongelukkig oor baie meer bekommer as die huidige ekonomiese klimaat, weersomstandighede en om kos vir miljoene Suid-Afrikaners te produseer. Hulle word boonop gereeld gekonfronteer met verskillende risiko’s wat hulle veiligheid bedreig en waarvoor daar regshulp ingewin moet word.

Van die onderwerpe wat vandag deur regskenners bespreek is, sluit in grondgrype, betreding, plaasaanvalle en noodweer, en selfverdediging.

“Die doel van hierdie konferensie was om vir boere en landelike gemeenskappe meer sekerheid te gee oor wat hul regte is en hoe hulle moet optree, sou hulle met van hierdie uitdagings te doen kry. Boere moet ook weet watse stappe hul moet volg om probleme soos grondgrype te verhoed en so gou moontlik op te los,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenksapsveiligheid.

Die inligting wat vandag by die konferensie gedeel is, is ook omskep in ’n reeks, Die boer en die reg, sal binnekort op AfriForumTV beskikbaar is.

Soortgelyke plasings