AfriForum konfronteer regering oor blatante dubbele standaarde in mondelinge voorlegging oor Haatspraakwetsontwerp voor Parlementêre Komitee

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n mondelinge voorlegging voor die Gekose Komitee oor Veiligheid en Justisie gelewer wat die voorgestelde Wetsontwerp op die Voorkoming en Bekamping van Haatmisdade en Haatspraak ten sterkste teenstaan. AfriForum het ook in 2019, 2021 en 2023 skriftelike kommentaar teen hierdie voorgestelde wetsontwerp ingedien en in 2022 ’n mondelinge voorlegging gedoen waarin die organisasie se kommer oor die wetsontwerp uiteengesit is. Die wetsontwerp is nou weer oop vir openbare kommentaar.

AfriForum is bekommerd oor die verslegtende dubbele standaarde wat wortel geskiet het rakende haatspraak wanneer dit kom by hofuitsprake, regeringstoepassing van wetgewing en mediaveroordeling. Hierdie wetsontwerp skep net verdere potensiaal vir hierdie skadelike dubbele standaarde om met groter vooroordeel en erns toegepas te word. Hierdie dubbele standaarde het selfs in vorige beraadslagings oor hierdie einste wetsontwerp deurgedring. AfriForum het in 2022 die adjunkminister van justisie, John Jeffery, se onaanvaarbare opmerkings en stereotipering van Afrikaners tydens die Portefeuljekomitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste se vergadering oor die Voorkoming en Bekamping van Haatmisdade en Haatspraakwetsontwerp veroordeel.

“Werklike haatspraak word toenemend goedgepraat of selfs aangemoedig teen groepe soos rasseminderhede, Afrikaners of boere, terwyl spraak wat nie volgens grondwetlike standaarde as haatspraak kwalifiseer nie, toenemend as haatspraak behandel word as dit sekere politieke agendas dien,” sê Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum.

“Mnr. Jeffery het tydens die openbare kommentaarsessie van 2022 opgemerk dat die ANC ‘politieke doelwitte’ het wat hulle met die wetsontwerp wil bereik, en dit is presies hoekom AfriForum dit teenstaan. Hierdie wetsontwerp maak die deur oop vir verdere misbruik deur die ANC, waardeur hy bloot spraak wat hy haat kan kriminaliseer, van diegene wat hy wil stilmaak, eerder as om werklike haatspraak aan te pak. Dit is die waarskynlike politieke doelwitte waartoe Jeffery so blatant verwys het,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings