|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Hoërskool Waterkloof met #DieValFilm

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 19 Januarie Hoërskool Waterkloof in Pretoria besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole, en sluit praatjies met leerders in. AfriForum het ook verlede jaar op 10 September, Wêreldselfdoodbewusmakingsdag, ’n film Die Val, vrygestel.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms. Die leerders het #DieValFilm op AfriForumTV gekyk. Hierdie film skep bewusmaking oor boeliegedrag en selfdood en bemagtig leerders met die nodige kennis en vaardighede om as leiers in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees. Hierdie film fokus veral ook op kuberafknouery, omdat dít deesdae ’n groot probleem onder tieners is. Dit is voorwaar ’n wonderlike inisiatief van Hoërskool Waterkloof om op so ’n manier ’n verskil in hulle gemeenskap te maak. Saam skep ons hoop,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Boeliebewusmaking gee slagoffers ’n stem en bring dit wat verkeerd is na die voorgrond. Dit laat slagoffers besef dat die probleem nie by hulle is nie, maar eerder by die boelies. Slagoffers sal dan die moed hê om daaroor te praat en hulp te soek om sodoende die boeliegedrag te beëindig. Deur bewusmaking kan boelies besef dat hulle gedrag verreikende gevolge het, en tot ander insigte kom en boeliegedrag staak,” sê Michelle van der Merwe, opvoedkundige sielkundige by Hoërskool Waterkloof.

#DieValFilm kan gratis op AfriForumTV by www.afriforumtv.co.za gekyk word. Die toepassing kan ook van die Google Play Store, of die App Store afgelaai word. Vir meer inligting oor die film, besoek gerus www.dievalfilm.co.za.

Stuur ’n e-pos na tania.scheepers@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog wil betrokke raak.

Soortgelyke plasings