AfriForum lê strafregtelike klagtes teen Thandiswa Mawisa  

 

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vanmiddag strafregtelike klagtes by die Lyttelton-polisiestasie teen die persoon agter die Thandiswa Mawisa Facebook-profiel gelê. Dié klagtes hou verband met verskeie onlangse boodskappe wat sy op Facebook geplaas het en haatspraak, intimiderende woorde en aanhitsing tot geweld insluit.
Sy het uiteindelik so laag gedaal dat sy ’n foto van ’n ander Facebook-gebruiker se dogter afgelaai het en daarna só aangepas het dat dit lyk asof die kind in ’n skut se visier is. Die woorde “Bullet between the devil eyes” is onderaan die gedokterde foto ingevoeg.

“Hoewel AfriForum reeds honderde klagtes van haatspreek, intimidasie, rassisme en aanhitsing tot geweld op sosiale media ontvang het, is ons geskok dat ’n onskuldige kind op so ’n aaklige wyse by dié debat ingesleep word. Ons het daarom besluit om die beëdigde verklaring onmiddellik in te dien,” sê Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.

AfriForum het die SAPD versoek om die persoon agter die Thandiswa Mawisa-rekening te  identifiseer en aan die pen te laat ry. Om die proses aan te help, het AfriForum die polisie versoek om gereelde terugvoer oor die aangeleentheid te gee en ook enige hulp aangebied wat die organisasie moontlik kan gee.

“Ons het ’n toenemende geneigdheid onder mense opgemerk wat sosialemediaplatforms soos Facebook en Twitter gebruik om rassisme aan te wakker, dreigemente te rig en geweld aan te hits. Ons hoop van harte dat die polisie ’n deeglike ondersoek sal loods en die verantwoordelike persoon sal straf. Ons nooi die publiek uit om aan te hou om voorbeelde van rassisme, haatspraak en geweldaanhitsing aan rasklag@afriforum.co.za te stuur,” sê Roets.

AfriForum is tans besig om ander wyses te ondersoek om rassisme, haatspraak en ander oortredings op sosiale media hok te slaan.

Soortgelyke plasings