|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Wes-Kaapse skole

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 15 en 16 September Laerskool Hermanus, Elandsrivier Primêr, en Laerskool Panorama in die Wes-Kaap besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole, en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as ’n leier in enige boelie-situasie op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees.

“Leerders word ook geleer om tussen afknouery en konflik te onderskei. Die doel van dié praatjie is om leerders te bemagtig. Leerders is ook meer oor die gevare rakende kuberafknouery, die gebruik van sosiale media en die internet ingelig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Boeliegedrag kom in elk skool voor, maak nie saak van die demografie nie, en dit is iets waarmee ’n mens een of ander tyd te doen gaan kry, selfs ook as volwassene in die werkplek. Sosiale media maak die situasie baie erger en meer dringend. Daar is al hoe meer leerders wat aan depressie of ander ernstige emosionele probleme ly en selfs, as gevolg van voortdurende afknouery, selfdood oorweeg. Daar sal altyd boelies wees en daarom moet ons ons kinders bystaan en help om vir hulself teen boelies op te staan,” sê Liezel Louw, onderwyseres by Laerskool Panorama.

“Boeliegedrag is iets wat al jare gebeur, maar kuberafknouery het definitief toegeneem. Die probleem is dat leerders te maklik toegang tot sosiale media het, en die feit dat daar geen beperkings gestel word, of deur ouers toegepas word nie. Fisieke boeliegedrag kom nog gereeld voor, maar nie alle leerders meld dit aan nie, juis omdat hulle vreesbevange is dat die boelie dan wraak sal neem. By ons skool het ons egter ’n paar maatreëls in plek wat leerders beskerm wat boeliegedrag aanmeld. Ons het ook ’n berader wat met die probleem help,” sê Irma O’Kennedy, onderwyseres by Laerskool Hermanus.

Vir meer inligting rakende AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings