AfriForum loods Rus in Vrede-veldtog in Middelburg


As deel van die burgerregte waghond AfriForum se Rus in Vrede-veldtog wat onlangs van stapel gestuur is, is ’n skoonmaakaksie op 19 Augustus 2017 by die Middelburg-begraafplaas gedoen waartydens 25 swartsakke vol rommel opgetel en ’n bakkievrag se takke en gras verwyder is.

“AfriForum se Middelburg-jeugvleuel het al die vullis tussen die grafte opgetel en grafte skoongevee. Dit maak ons as jongmense trots om ’n verskil in ons gemeenskap te kan maak,” sê Jaco Booyens voorsitter van die jeugvleuel van AfriForum se Middelburg-tak.
“Ons het ’n beduidende aantal drankbottels opgetel en die begraafplaas is na bewering ook ’n gewilde uithangplek vir dwelmgebruikers. Die buurtwag sal daarom patrollering rondom die begraafplaas opskerp,” sê Chris Olivier, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.
“Gemeenskappe kan die toekoms in hul eie hande neem deur selfdoenaksies. Inisiatiewe soos dié skep hoop in ’n gemeenskap en is ’n voorbeeld van hoe selfstandigheid deur gemeenskapslede bewerkstellig kan word,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.

Raak vandag by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke. SMS “Begraafplaas” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings