|

AfriForum loods Pretoria se slaggate-platform

Die burgerregteorganisasie het ’n aanlyn platform, Pretoria se slaggate, geloods waar inwoners van Pretoria die slaggate in hul woonbuurt, veral op hoofpaaie wat swaar verkeer dra, kan rapporteer. Data van die slaggate wat op Pretoria se slaggate ingesamel word, sal dan verwerk en aan die Tshwane-metro deurgegee word. Op hierdie manier help AfriForum die metro om te identifiseer watter slaggate dringende aandag verg in die hoop dat dit spoedig herstel word.

As gevolg van die skade wat die afgelope paar weke se swaar reëns veroorsaak het, is die paaie in Pretoria in ’n bedenklike toestand. Daar is bykans nie ’n straat in die stad ontsien van reuse-slaggate nie wat ’n veiligheidsrisiko vir motoriste en pendelaars inhou. Aangesien die Tshwane-metro omtrent nie kan byhou met die nodige herstelwerk en instandhouding wat benodig word om die paaie weer in ’n aanvaarbare toestand te kry nie, het AfriForum besluit om ondersteuning aan die Tshwane-metro te bied.

“Ons verstaan dat daar tans ’n krisis is met verspoelde paaie weens die onlangse hoë reënvalsyfer en dat al die paaie nie oornag herstel kan word nie. Dit is wel belangrik om besige roetes te identifiseer en daarvolgens die herstelwerk te prioritiseer. Ons sien daarom hierdie as ’n geleentheid om die munisipale bestuur te ontmoet vir die prioritisering van daardie slaggate wat dringend herstel moet word. AfriForum versoek van die Pretoria-gemeenskap om deel te neem aan hierdie inisiatief deur ons te voorsien van die ligging van die slaggate wat hulle daagliks frustreer. Daarna sal ons ’n vergadering met die Tshwane-metro belê en hulle vereis om die spesifieke paaie te prioritiseer,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.

AfriForum het verskeie takke regoor die Tshwane-metro wat gereeld self slaggate in hul omgewings herstel asook ander selfdoen-projekte suksesvol aanpak. Raak by jou naaste AfriForum-tak betrokke om AfriForum se hande sterk te maak om aan te hou met selfdoen-projekte wat tot voordeel van die gemeenskap in geheel strek.

Klik hier om slaggate in Pretoria te rapporteer.

Soortgelyke plasings