|

Lichtenburg-tak herstel 65 slaggate in ’n japtrap

AfriForum se Lichtenburg-tak het van 12 tot 22 Junie altesaam 65 slaggate in Kerkstraat en 8ste Laan herstel. Honderd sakkies teer is gebruik om die slaggate te vul en SS60 Bitumen is gebruik om die slaggate te seël.

Die tak bedank NWK Lichtenburg wat reeds 100 sakkies teer en ’n drom SS60 Bitumen geskenk het om kritiese gate te herstel.

“Die munisipaliteit het die afgelope ses maande min tot geen paaie in stand gehou. Ons wil die publiek aanraai om betrokke te raak by AfriForum se Lichtenburg-tak want hoe meer mense aansluit, hoe meer goeie werk kan ons in die dorp doen,” sê Pine Pienaar, wat die slaggatprojek namens die Lichtenburg-tak behartig.

Hierdie tak daag ook ondernemings en individue uit om teer te skenk indien hulle ’n spesifieke straat se slaggate gevul wil hê. Inwoners word ook aangemoedig om by die Lichtenburg-tak aan te sluit. Besoek www.afriforum.co.za of kontak Steyn Kearny, die takvoorsitter, by 082 803 3628.

“Dit is belangrik dat die plaaslike gemeenskap by gemeenskapsprojekte betrokke raak om die agteruitgang van ons dorpe in die kiem te smoor, want die munisipaliteit kom nie hul pligte na nie,” sê Armand Viljoen, die distrikskoördineerder vir die Marico.

Kontak vir Pienaar by 082 371 5312 om ’n bydrae tot die slaggatprojek te maak.

Soortgelyke plasings