|

Nuuskommentaar: Deur inheemse moedertaal word erfenis, kultuur en selfs toerisme bevorder

Jaarliks word Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie gevier. Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) het dié datum gekies ter herdenking aan 21 Februarie 1952, toe Bengaalse studente in opstand gekom het omdat Pakistan wetgewing in plek gestel het om hulle te dwing om slegs in Oerdoe te kan studeer. Vyf studente het gesterf en verskeie is gewond, maar vandag kan studente in Bangladesj in Bengaals studeer.

Plaaslik is die verbintenis jeens moedertaal helaas veel swakker. Een van die redes hiervoor is (en ek is nie sarkasties as ek dit sê nie) dat Afrikaanse mense eenvoudig te ordentlik is. As tien Afrikaanssprekendes sit en gesels, of selfs in ’n lesingsaal sit, en een Engelssprekende stap in, is die groot groep dadelik bereid om na Engels oor te slaan. Daarenteen het ek al by gesprekke in Zulu aangesluit waar ek eenvoudig geïgnoreer is, en by Engelse gesprekke waar die houding was dat “almal mos Engels kan verstaan”, wat glad nie altyd waar is nie.

Toe AfriForum met die inisiatief begin het om ’n databasis van Afrikaanse besighede te skep – dit wat vandag as die AfriForum Sakenetwerk bekendstaan – het ons die publiek herinner aan die feit dat sowat ’n derde van die handelsmark in die land Afrikaans is. Let wel Afrikaans beteken mense van alle rasse. Tog hou vele besighede by ’n beleid van slegs Engels en adverteer ook net in Engels.

’n Prettige uitsondering is Checkers wat selfs rym in Afrikaans vir hulle Sixty60-diens. Nog meer verrassend is die lugredery Emirates wat deesdae gereeld Afrikaanse radio-advertensies laat hoor. Terwyl plaaslike besighede bibberend alle Christelike en Afrikaanse verwysings vermy “omdat dit kan aanstoot gee”, het Emirates geen probleem om produkte in netjiese Afrikaans aan te bied en aan boord die opsie te gee dat passasiers die Koran kan lees of na voorlesings daaruit kan luister nie. Hopelik leer ons iets daaruit?

Taalaktivis Cerneels Lourens haal iemand aan wat gesê het dat “Afrikaans as regstaal se begrafnisklokke gelui het en dat dit Afrikaanssprekendes was wat die beiaardiers was”. Ongelukkig dink ek daardie opmerking is op meer as net die regsveld van toepassing. AfriForum stel dit baie duidelik dat ons administratiewe taal Afrikaans is. Tog stuur Afrikaanse lede daagliks korrespondensie aan ons in Engels. Mense doen aansoek by AfriForum om poste met Engelse CV’s. As hulle gevra word om dit in Afrikaans aan te bied, is die verskoning dikwels dat Afrikaanse skrywes en dokumentasie “nie professioneel is nie”, of “nie die norm handhaaf nie”.

As ons die norm in Suid-Afrika wil handhaaf, moet ons dadelik almal gebrekkige Engels begin gebruik en swak dienslewering aanbied. Beide is tans algemeen genoeg in die land dat dit as norm gestel kan word.

Daarenteen pleit ek dat ons uitstyg bo die norm met uitnemendheid – dat ons ons moedertaal handhaaf sonder om ongeskik te wees of in vyande van Engels te verander.

Net voor Kersfees skryf ’n lid aan ons oor ’n restaurant in Hartenbos. Kan daar ’n plek op aarde wees wat meer Afrikaans as Hartenbos is, vra ek uit eie ondervinding na ’n onlangse lang verblyf daar. Die restaurant se naam is Engels en toe die lid ’n Afrikaanse spyskaart vra, is hy meegedeel dat slegs Engelse spyskaarte beskikbaar is. Hoe dom kan so ’n besigheid wees – as ’n internasionale redery soos Emirates selfs Afrikaans ondersteun, waarom nie ’n klein restaurant in die land nie?

Nie net restaurante nie, maar ook die leweransiers van produkte soos wyn en speserye voer dikwels aan dat hulle ook mik op internasionale kliënte. Eerstens: Emirates het nie ophou adverteer in enige taal toe hulle Afrikaans begin gebruik het nie. Ten tweede: As ek in Frankryk of Duitsland is, ondersteun ek restaurante met Franse of Duitse name en spyskaarte en ek koop produkte met Franse en Duitse etikette. Rekenaar-vertaalprogramme help blitsig om te vertaal as ek nie seker is wat ’n dis of produk is nie, ’n hedendaagse voordeel wat ’n paar dekades gelede ondenkbaar was. Sodoende kry ek ’n unieke ervaring en iets wat ek nie noodwendig tuis sal kan koop of geniet nie. Ek mik baie beslis nie vir Engelse etikette en eetplekke nie. Daarvan is daar genoeg (te veel?) tuis.

As ons meer inheemse tale soos Afrikaans op etikette, in besigheidsname en advertensies gebruik, gaan dit bydra tot die toeris se eiesoortige belewenis van ons land en sy ryk kulturele skatte, insluitend ons tale.

Oor Internasionale Moedertaaldag sê Unesco dat dit almal nooi om die dag in soveel tale as moontlik te vier as ’n herinnering dat taalverskeidenheid en veeltaligheid noodsaaklik vir volhoubare ontwikkeling is. “Tale is die kragtigste instrumente om ons tasbare en ontasbare erfenis te bewaar en te ontwikkel. Alle pogings om die verspreiding van moedertale te bevorder sal nie net dien om linguistiese diversiteit en veeltalige onderwys aan te moedig nie, maar ook om ’n groter bewustheid van taal- en kulturele tradisies regoor die wêreld te ontwikkel, om … begrip, verdraagsaamheid en gesprek aan te moedig,” word deur hulle verklaar.

Ons pleidooi is dat dié ingesteldheid nie net op 21 Februarie moet geld nie, maar dwarsdeur die jaar, en dat ons ons geliefde moedertaal, Afrikaans, sonder huiwering moet gebruik.

Soortgelyke plasings