AfriForum: Middelburg-tak span kragte saam met die Cluster-polisiediens


Die AfriForum-tak in Middelburg het hul samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bevestig deur ’n afskrif van die samewerkingsooreenkoms wat op 16 Januarie 2017 tussen AfriForum en die SAPD in Centurion gesluit is, op 7 Februarie 2017 aan die bevelvoerder van die Middelburg Cluster-polisiekantoor te oorhandig.
Genl.maj. T.C. Sithole, die Cluster-bevelvoerder van Middelburg, het die ooreenkoms in ontvangs geneem namens die agt polisiestasies waaruit die Middelburg Cluster bestaan.

“Hierdie ooreenkoms beteken dat AfriForum nou amptelik erken word as vennote in die geveg teen misdaad en dat die SAPD bereid is om saam met ons te werk op ’n plaaslike en nasionale vlak. Dit is vir AfriForum uiters belangrik om gesien te word as ’n organisasie wat saam met die SAPD betrokke kan wees by veiligheidsoperasies binne die raamwerk van die wet,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.
“Beide AfriForum en die SAPD is nou sterker as gevolg van die ooreenkoms en dit bevorder eenheid binne die gemeenskappe. AfriForum sien dit nie as ’n eksklusiewe ooreenkoms nie; ons wil juis ander organisasies aanmoedig om ook soortgelyke ooreenkomste met die SAPD te sluit sodat ons misdaad kan teëstaan,” sê Chris Olivier, buurtwagvoorsitter van die AfriForum-tak in Middelburg.
“AfriForum-buurtwagte bied verskillende voordele aan lede, soos ongeluksterftevoordeel, noodvervoer, regsbystand, opleiding en nog vele meer. Ons wil plaaslike inwoners aanmoedig om saam met ons betrokke te raak in die bekamping van misdaad; ons kan nie meer bekostig om verdeeld te wees nie,” voeg Johan de Beer, voorsitter van die AfriForum-tak in Middelburg, by.

Soortgelyke plasings