| | | |

AfriForum mobiliseer publiek se koopkrag om kleinsake te help

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n veldtog van stapel gestuur om die publiek aan te moedig om klein en mediumgrootte ondernemings in hul plaaslike gemeenskappe wat nie regeringshulp ontvang nie met hul koopkrag te ondersteun. Dié stap volg te midde van die COVID-19-krisis se negatiewe uitwerking op kleinsakeondernemings en die regering se gebruik van ras as maatstaf om met COVID-19-hulp teen minderhede se sakeondernemings te diskrimineer.

AfriForum het reeds ’n aanlyn sakeplatform by www.afriforumnetwerk.co.za geskep. Sake-eienaars kan hul ondernemings gratis op AfriForum Netwerk lys, terwyl verbruikers ook gratis op dié platform kan soek na verskillende kategorieë van sakeondernemings in hul plaaslike gemeenskappe.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die groot getal sakeondernemings wat op AfriForum Netwerk geregistreer is ’n aanduiding van die groot druk waaronder kleinsakeondernemings tans verkeer, asook van die behoefte aan hulp. Sedert die begin van die inperking het die aantal ondernemings op dié platform tot meer as 10 000 toegeneem. “Lede van minderheidsgemeenskappe besef ook toenemend dat ons onsself en mekaar sal moet begin help as die regering nie minderhede se sakeondernemings wil help nie,” sê Kriel.

Kriel wys daarop dat steun vir plaaslike ondernemings sal help om gemeenskappe op verskeie wyses te versterk. “Die oproep om plaaslike ondernemings te ondersteun, word nie net deur sentiment gedryf nie, maar ook met die wete dat daar baie plaaslike ondernemings is wat gehalteprodukte en -dienste lewer.” Volgens Kriel is daar ook ter wille van gehaltebeheer ’n funksie op AfriForum Netwerk waar verbruikers terugvoer kan verskaf oor die dienste of produkte wat hulle van ’n gelysde sakeonderneming ontvang het.

AfriForum Netwerk word gratis aangebied, omdat die doel van www.afriforumnetwerk.co.za is om optimale voordeel vir sowel sakeondernemings as verbruikers in gemeenskappe in te hou.

“Die helpmekaaringesteldheid het ons voorgeslagte deur verskeie krisisse gedra. Daar is dus geen rede waarom ons geslag nie ook die COVID-19-uitdagings met ’n helpmekaaringesteldheid kan oorkom nie,” sê Kriel.

Soortgelyke plasings