| |

Die AfriForum Mosselbaai-tak plant saam met Mosselbaai Munisipaliteit bome

Die AfriForum-tak in Mosselbaai het op 10 September, in samewerking met die Mosselbaai-munisipaliteit,  21 koorsbome (Acacia xanthophloea) in Apiesdoringstraat se park in Heiderand geplant. Die inisiatief vorm deel van AfriForum se boomplantmaand wat jaarliks in September gevier word. In dié maand word die Suid-Afrikaanse publiek oor die belangrikheid van bome bewus gemaak.

AfriForum se Mosselbaai-tak bedank graag Raadsheer Dirk Kotze die uitvoerende burgemeester, die volgende raadslede Mark Furness, Leon van Dyk, Elize Nel en die publiek van Mosselbaai wat die geleentheid bygewoon het. Ons bedank ook die munisipaliteit wat al die gate voorberei het en van die bome reeds voor die tyd geplant het. Vier van hierdie bome is seremonieel deur hierdie raadslede, die AfriForum Jeug-tak in Mosselbaai, die gemeenskap en die bestuur van AfriForum se Mosselbaai-tak geplant.

Raadsheer Kotze het tydens sy toespraak klem daarop gelê dat die plant van bome ’n belegging in die toekoms is, hy het ook vermeld dat samewerking tussen gemeenskappe van uiterste belang is.

“Die beste tyd om ’n boom te plant was eintlik 20 jaar terug, maar ons kan steeds vandag deur bome te plant ’n verskil vir die toekoms maak,” sê Louis Cook die voorsitter van die AfriForum-tak in Mosselbaai.

“Die plant van bome dra nie net tot die beskerming van ons natuurerfenis by nie, maar bome simboliseer ook lewe en skep hoop, ’n rare kommoditeit in die tye waarin ons leef,” sê David Olivier, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Die dag is met worsbroodjies en koeldranke by ’n gesellige netwerkgeleentheid afgesluit.

Raak vandag by AfriForum se Mosselbaai-tak betrokke: SMS “Mosselbaai” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings