|

AfriForum nader hof op dringende grondslag oor water- en kragkrisis in Parys

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan op Woensdag 13 Julie in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein wees oor die voortdurende water- en kragprobleme in Parys. AfriForum het reeds op 6 Julie sy regspan opdrag gegee om die nodige stappe te doen om onmiddellike verligting aan die gemeenskap van Parys te bring.

Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en Eskom is albei gevoeg in die hofsaak waar AfriForum dringende verligting versoek om die gemeenskap by te staan sodat die situasie in die dorp weer kan normaliseer. 

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier gaan die gemeenskap gebuk onder water- en kragprobleme wat nie deur die munisipaliteit aangespreek word nie. “Mense in die gemeenskap sit al vir ’n geruime tyd sonder krag en water. Ouetehuise sukkel om hul daaglikse funksies te verrig en sakeondernemings lei erge skade oor die konstante krag onderbrekings. Waterinfrastruktuur is ook besig om inmekaar te stort en water kan nie gepomp word na die gemeenskap toe nie as gevolg van die kragonderbrekings wat gepaard gaan met Eskom se implementering van beurtkrag en maksimum aanvraag beurtkrag wat op die munisipaliteit geïmplementeer word. Riool loop in die strate af en grootskaalse besoedeling van die omgewing vind plaas. Die munisipaliteit versuim in sy pligte om die gemeenskap van water te voorsien en daarom het ons besluit om in te gryp,” het Pretorius gesê.

Die water- en kragprobleme het op Vrydag 1 Julie begin toe Eskom die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se krag afgesit het as gevolg van oorlading en toerusting wat beskadig is. Sedertdien gaan die gemeenskap gebuk onder die water- en kragprobleme wat selfs tot gevolg het dat water en kos ingesamel moet word om die gemeenskap by te staan.

“Die probleme wat ons nou hier sien is ’n uitvloeisel van jare se wanbestuur, verwaarlosing van infrastruktuur en wanbetaling van die munisipaliteit se kant af. Die munisipaliteit het totaal en al in sy taak gefaal om selfs basiese dienste in die dorp te lewer en hoewel die gemeenskap aan hul eie genade oorgelaat is moet hulle steeds belasting betaal. Die munisipale bestuur is onbevoeg en het nie ’n plan van aksie of die nodige wilskrag om die probleme op te los nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekhoof vir die sentraalstreek. “AfriForum het al in menigte vergaderings met die munisipaliteit gesit waar ons aangebied het om die munisipaliteit by te staan met kundige hulp en advies maar hulle het dit van die hand gewys. Dit los ons met geen ander uitweg as om ’n hofbevel te kry om die munisipaliteit te verplig om dienste te lewer soos wetgewing van hulle vereis nie.”

Die munisipaliteit moes ongeveer R1,1 miljoen betaal om kragtoevoer te herstel, hierdie betaling is eers Maandag 4 Julie gemaak. Die krag het van 20:00 af begin aankom nadat Eskom herstelwerk moes doen. Op hierdie stadium verskaf Eskom net genoeg ampère sodat die swak munisipale netwerk dit kan hanteer. Dit het tot gevolg dat die gemeenskap steeds vir lang tye sonder krag is en dat sommige inwoners nog nie weer krag gehad het nie.

“Die plaaslike AfriForum-tak is deurlopend besig om water in die gemeenskap versprei tesame met boere. Hier is dringende en ingrypende optrede nodig om hierdie probleem op te los,” sluit Pretorius af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Parys” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings