|

MIV-poging tot moordsaak: Geregtigheid uiteindelik in sig

Die verhoor van die 45-jarige voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is vandag tot April uitgestel vir slotbetoë. Die beskuldigde staan tereg op klagtes van poging tot moord en verkragting ná hy na bewering die klaer in hierdie saak, Antoinette Ndishishi, doelbewus met MIV besmet het. Die beskuldigde het geweet hy het dié virus, maar het hierdie feit verswyg. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Ndishishi in hierdie saak.

Die identiteit van die beskuldigde word weerhou aangesien die klagtes teen hom verband hou met sy gesondheid – die verhoor vind in camera plaas.

Ndishishi het die verrigtinge vandag bygewoon. Die landdros het haar gevra om verskeie aspekte van haar getuienis te verduidelik. Ndishishi sê dat hierdie verhoor sy tol geëis het – die verhoor het in Maart 2022 begin. “Ek wil hê hy moet skuldig bevind en gevonnis word. Hierdie saak moet nou gefinaliseer word. Die verhoor het lank geduur en ek is emosioneel uitgeput. Dit is nie lekker om hof toe te gaan nie, maar AfriForum en my familie is baie ondersteunend,” sê Ndishishi.

Die beskuldigde en die klaer was beide ten tyde van die beweerde voorval lede van die SANW. Die privaatvervolgingseenheid het in 2018 by hierdie saak betrokke geraak en druk geplaas op die SANW om die beskuldigde se mediese verslae, wat ook inligting bevat het oor sy MIV-status, aan hulle beskikbaar te stel. Hierdie verslae dateer so ver as 2007 terug.

Die SANW het geweier om dié verslae beskikbaar te stel wat daartoe gelei het dat die Nasionale Vervolgingsgesag die saak twee keer moes onttrek. Sonder die privaatvervolgingseenheid se toetrede en voortgesette druk op die SANW sou die dossier nie voldoende bewyse bevat het om uiteindelik die beskuldigde te vervolg nie.

Die saak is uitgestel tot 16 April.

Soortgelyke plasings