|

Matrieksyfers toon steeds kommerwekkende vroeë skoolverlatingskoers

AfriForum wens alle matrikulante wat in 2022 hulle skoolloopbaan suksesvol voltooi het, van harte geluk. Hulle prestasie is te wyte aan hulle harde werk en aan onderwysers wat ten spyte van vele uitdagings in die onderwyssektor, groot opofferings maak om uitnemende onderrig aan te bied. Ons salueer julle!

Die afgelope aantal jare word sogenaamde voortdurend verbeterende matriekslaagsyfers telkens gevier.  Vanjaar is geen uitsondering nie met ’n slaagsyfer van 80.1%. Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake van AfriForum, fokus haar organisasie egter op die groep leerlinge wat nooit eens die matriekeksamen afgelê het nie.

Volgens die statistiek van die departement van Basiese Onderwys se verslag, Education statistics in South Africa 2011, het 1 177 089 leerlinge hulleself in 2011 in graad 1 van sogenaamde normale skole bevind. Daarvan was 1 133 806 leerders in openbare skole en 43 283 in onafhanklike skole.

Daarteenoor het 752 003 voltydse en 168 631 deeltydse matrikulante in 2022 die matriekeksamen afgelê, waarvan 13 525 in onafhanklike skole was. 

Dit is uiters kommerwekkend dat 256 455 van die leerlinge uit die stelsel verdwyn het. Dit is ’n tendens wat jaarliks gesien word. In die eerste plek bewys dit dat die verlaging van slaagvereistes leerders nie oortuig om aan te hou om tot matriek skool te gaan nie. Tweedens, selfs met matriek is ’n groot hoeveelheid jongmense nie werklik indiensneembaar nie, weens die swak gehalte onderwys wat hulle ontvang het en hierdie lae standaarde wat gestel word vir leerders om te slaag. Sonder ’n matrieksertifikaat sal dit wel nog moeiliker vir hulle wees om vir hulleself ’n volhoubare toekoms te skep en tot die nasionale ekonomie by te dra. Dit verduidelik waarom Suid-Afrika se amptelike jeugwerkloosheidsyfer aan die einde van 2022 ’n gevaarlik hoë 59.6% was ‒ ’n vername rede vir kommer oor die toekomstige maatskaplike stabiliteit van die land.

In sy uiteensetting van die tegniese aspekte van die eksamen, het die direkteur-generaal van Basiese Onderwys, Mathanzima Mweli verklaar dat die probleem nie die uitvalskoers is nie, maar druipelinge en diegene wat grade herhaal. Volgens hom sal leerders meer baat by outomatiese vordering deur grade en sal dit beter vir hulle selfvertroue wees. Hoe iemand kan baat by vordering sonder kennis en insig, asook hoe dit jou selfvertroue sal bevorder om in ’n klas te sit waar jy nie op dieselfde vlak as jou klasmaats is nie, is nie duidelik nie. Ten minste was hy eerlik daaroor dat probleme vanaf graad 4 begin wanneer kinders nie meer moedertaalonderrig ontvang nie en dan vroeg skool verlaat. Wat wel uit sy woorde blyk, is dat die departement die fout by die kinders soek, en nie by die swak onderrig wat hulle laat uitval, druip of grade herhaal nie.

“Dit bly dringend noodsaaklik dat die departement van Basiese Onderwys aanspreeklikheid aanvaar en leierskap toon om probleme soos ’n gebrek aan moedertaalonderrig, ondoeltreffende kurrikulumopsies, verlammende optrede deur sommige onderwysvakbonde, ontoereikende opleidingsgeleenthede vir onderwysers, ’n tekort aan infrastruktuur, aanvegbare onderwyswetsontwerpe soos die BELA-wetsontwerp, wanfunksionaliteit van skole en dissiplineprobleme die hoof te bied,” het Bailey verklaar.

“Tot dit geskied, is die jaarlikse viering van ’n sogenaamde verbeterde matriekslaagsyfer misplaas en word ’n groot groep jongmense in steek gelaat.”

Soortgelyke plasings