| |

AfriForum nie verras oor aanvaarding van Bela-wetsontwerp – voorbereidings vir regsaksie duur voort

Die ANC en EFF-lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys se meerderheidstem het vandag gesorg vir die komitee se aanvaarding van die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet). AfriForum is nie verras deur die verloop van sake nie, aangesien dit reeds sedert 2022 duidelik was dat die motief vir die insluiting van artikels oor skole se taal- en toelatingsbeleide nie beter onderwys was nie, maar suiwer politiekery in aanloop tot die verkiesingsjaar.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het verskeie uitsprake van die komiteelede dit duidelik gemaak dat hulle nie in insette van die publiek belangstel tensy dit met hulle eie ideologiese oortuigings en agenda saamstem nie.

“In die bestaande onderwyswetgewing word ruimskoots voorsiening gemaak vir optrede teen skole en beheerliggame wat taal- en toelatingsbeleide misbruik om op grond van ras te diskrimineer.  Tog is hierdie sogenaamde diskriminasie as rede vir die insluiting van artikels 5 en 6 oor beheerliggame se reg om oor dié beleide te besluit, in die wetsontwerp ingesluit,” verduidelik sy.

Bailey noem dat AfriForum weens die ANC- en EFF-komiteelede se houding reeds lankal begin het met die voorbereiding vir regsaksie indien  die wetsontwerp na oorweging deur die Nasionale Vergadering, Nasionale Raad van Provinsies en die president aanvaar en geïmplementeer word. In die stadium lê hierdie drie stappe nog voor en kan regsaksie nog nie onderneem word nie, maar die voorbereidings duur wel voort.

Die wetsontwerp toon verder ook baie ander gebreke, insluitend die finansieel onuitvoerbaarheid van die uitbreiding van verpligte voorskoolse onderrig, maatreëls wat tuisonderrig gaan strem en dat dit opgestel is lank voor die Covid-19-pandemie die onderwyslandskap ingrypend verander het. Laasgenoemde beteken dat nuwe ontwikkelinge op die terrein van aanlyn onderrig nie eens daarin ter sprake kom nie.

“Die ANC- en EFF-lede van die komitee het met hulle besluit vandag opnuut bewys dat hulle die land wil dwing om weg van moedertaalonderwys na eentalige swak Engelse onderrig te beweeg. Hierdie partye skroom nie om die jeug se toekoms op die spel te plaas ten einde ideologiese doelstellings te bereik nie,” meen Bailey.

Soortgelyke plasings