AfriForum ondersteun Wêreldvleilanddag – woon vleilandseminaar en -werkswinkel by

 

AfriForum woon op 2 Februarie die vleilandseminaar en -werkswinkel by wat deur die Gauteng-vleilandforum by die Botaniese Tuin in Pretoria aangebied word ter viering van Wêreldvleilanddag. Dit volg nadat AfriForum in 2018 deel geword het van die Gauteng-vleilandforum.
Deur deel van dié forum te wees, is AfriForum in staat om met verskeie rolspelers (onder andere die Departement van Water en Sanitasie) te skakel en insae te lewer om sodoende ons vleilande te beskerm.
Later vandeesmaand is AfriForum van plan om vleilande ter viering van Wêreldvleilanddag skoon te maak, en sal afskop met die skoonmaak van die Moreletapark-natuurreservaat se vleiland.

“Vleilande is van kardinale belang omdat dit soos natuurlike damme funksioneer. Tydens swaar reëns of donderstorms suig vleilande die water op soos ’n spons en stel dit dan weer stadig deur die res van die jaar vry. As vleilande nie daar is nie, spoel dié afloopwater onmiddellik weg. Baie van ons riviere en strome is reeds besoedel. Beide vloede en droogtes is algemeen en daarom is dit noodsaaklik om na ons vleilande om te sien. Vleilande beskik oor die vermoë om die hewigheid van vloede en droogtes te verminder deur die regulering van stroomvloei,” sê Chris Boshoff, koördineerder vir omgewingsake by AfriForum.
“Die mens is verantwoordelik om ons vleilande te bewaar en sodoende te verseker dat ons noodsaaklike ekostelsels optimaal funksioneer. Meer as 50% van Suid-Afrika se vleilande is reeds vernietig of toon agteruitgang,” sluit Boshoff af.

SMS jou naam na 45354 (R1) om hierdie AfriForum-aksie te ondersteun.

Soortgelyke plasings