|

AfriForum Oos-Moot-tak tree vinnig op en vang betreder

AfriForum se Oos-Moot-buurtwaglede, inwoners van Waverley en die Moot Crime Stop Security het Maandagmiddag 27 Januarie 2020 ’n betreder vasgetrek nadat ’n taklid op ’n AfriForum-groep laat weet het dat die betreder deur hul erf beweeg het. Die verdagte is onmiddellik agternagesit en sy beskrywing is op die buurtwaggroepe deurgegee. Die verdagte het ander klere aangetrek en die taklid kon ’n nuwe klerebeskrywing aan die groep deurgee.

AfriForum se buurtwaglede was onmiddellik op die toneel en het plek ingeneem by uitkykpunte terwyl ander buurtwaglede toestemming verkry het om van die erwe te deursoek. Die buurtwag was goed georganiseer en die verdagte het hom in Dunwoodierylaan in een van die buurtwaglede vasgeloop, waarna Moot Security Stop opgedaag en bystand gebied het. Die Villieria-SAPD is na die toneel ontbied en die verdagte is in hegtenis geneem.

“Só lyk gemeenskapkrag en samewerking. AfriForum se Oos-Moot-buurtwag sal aanhou om die stryd teen misdaad te stry,” sê Andries Opperman, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag.

“Die dae van niksdoen is verby. Gemeenskappe moet hande vat en saamwerk om hul areas te beveilig,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Soortgelyke plasings