| | |

Dwarskersbos: AfriForum eis skorsing van amptenaar

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het vandag in ’n brief aan Ray van Rooy, burgemeester van Dwarskersbos, geëis dat Jerome Pedro, ’n verkeersbeampte in Dwarskersbos, geskors word hangende ’n billike, regverdige ondersoek na sy optrede. Die eenheid tree namens vyf mense op wat tydens die inperkingstydperk deurgeloop het weens Pedro se beweerde onbillike en arbitrêre optrede. Die burgerregteorganisasie versoek ook in hierdie brief dat die strafregtelike klagtes teen dié individue vir die sogenaamde oortreding van inperkingsregulasies teruggetrek word.

AfriForum het verlede maand aangekondig dat die Privaatvervolgingseenheid vir Ludwig Gericke bystaan. Gericke is op 9 Mei 2020 voor sy vrou en jong kinders deur Pedro en nog ’n verkeersbeampte in Dwarskersbos in hegtenis geneem en na bewering hardhandig behandel terwyl Gericke tydens vlak 4 van die inperking vir sy vrou en driejarige kind (wat noodsaaklike items by die winkel gaan koop het) gewag het. Sedert hierdie aankondiging het AfriForum verskeie klagtes van die gemeenskap van Dwarskersbos gekry oor Pedro se optrede.

Die Privaatvervolgingseenheid versoek ook al die bewysstukke wat adv. Hanlie Linde, munisipale bestuurder, in haar ondersoek na Pedro se optrede in die Gericke-geval gebruik het. Hierdie ondersoek het bevind Pedro is onskuldig aan enige wangedrag. Geen van die gemeenskapslede wat deur AfriForum verteenwoordig word, is versoek om hul weergawes in dié ondersoek te gee nie en die afleiding word dus gemaak dat adv. Linde bloot op Pedro se weergawe van gebeure staatgemaak het.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die Privaatvervolgingseenheid, het verder in die brief gemeld dat die eenheid bekommerd is omdat hulle al hoe meer gevalle sien waar die regering vinnige, eensydige ondersoeke na onbehoorlike optrede van amptenare loods. Hierdie ondersoeke bevind gewoonlik dat die amptenare onskuldig is, maar bewysstukke dui daarop dat sulke oorhaastige bevindings gewoonlik irrasioneel is.

“Ons kan nie toelaat dat wetstoepassers gewone, wetsgehoorsame mense in misdadigers verander nie. Die Minister van Polisie blyk baie trots te wees op die inhegtenisneming van meer as 230 000 mense vir die sogenaamde oortreding van inperkingsregulasies, terwyl die ondersoeke na korrupte politici ver agterweë bly. Dit lyk asof hierdie houding jeens die kriminalisering van die publiek oorspoel na sommige wetstoepassers. Teen hierdie trant gaan baie wetsgehoorsame burgers, eerder as diegene wat dit eintlik verdien, ’n kriminele rekord hê,” sê Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir hierdie saak.

Soortgelyke plasings