AfriForum pak Kanadese mynmaatskappy namens plaaslike stam


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag aangekondig dat sowel sy teenkorrupsie-eenheid as sy privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, die saak van die Ndebele Vaaltyn-stam – wat in 2014 strafregtelike klagtes teen die Kanadese mynmaatskappy Ivanplats Myne Bpk., wat deur die miljardêr en mynmagnaat Robert Friedland besit word, aanhangig gemaak het – gaan hanteer.
Die strafregtelike klagtes hou verband met onwettige mynbedrywighede, oortreding van omgewingswetgewing en die onregmatige en oënskynlike kulturele oneerbiedige hervestiging van die stam se historiese en voorvadergrafte. ’n Ter plaatse ondersoek is vandag by die betrokke gebiede uitgevoer – insluitend die operasionele gebied – as deel van die bevestiging van die klagtes.

“AfriForum is in Maart 2017 deur lede van die stam genader omdat hulle bespeur dat Ivanplats moontlik ongeregverdigde beskerming deur staatsamptenare geniet het. Ons oorweeg ʼn privaat vervolging om gelykheid voor die reg te verseker en dat die regsoewereiniteit seëvier,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die mynmaatskappy het ook lede van die stam van sy stamgebonde opstal hervestig om plek te maak vir ’n nuwe stormwaterdrein. AfriForum is meegedeel dat ’n ondersoek deur die openbare beskermer se Limpopo-kantoor bevind het dat Ivanplats nie ’n aansoek om toestemming geloods het om die stormwaterdrein in sy mynuitlegplan in te sluit nie.

“Die Kekana Koninklike Familie is gekant teen die hervestiging van grafte en die hervestiging van inwoners sonder dat die nodige stappe gevolg word. Dit behels dat Ivanplats die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming moet kontak om ’n proses in werking te stel om stamresolusie en ministeriële instemming te bekom. Die familie is verder gemoeid met die feit dat Ivanplats klagtes deur lede van die stam rakende onwettige springstofaktiwiteite verontagsaam. Die bewerings behels dat die aktiwiteite binne 500 m van die gemeenskap plaasvind, wat aanleiding gee tot strukturele skade aan huise en rusverstoring aangesien springstofaktiwiteite dikwels in die aand geskied,” sê Aubrey Langa, gemeenskapsverteenwoordiger en lid van die Ndebele Vaaltyn-stam.

Die stam het ook in April 2014 ’n klagte by die openbare beskermer ingedien. Volgens die verteenwoordigers van die stamgemeenskap het hierdie klagte nie die nodige aandag geniet nie. Dit is enigmaties waarom die Valke nie die departement van minerale hulpbronne versoek het om die elite polisie-eenheid te vergesel tydens inspeksie van die ligging wat in Desember 2017 plaasgevind het nie. Verteenwoordigers van die Ndebele Vaaltyn-stam het hul misnoeë uitgespreek dat minister Zwane – wat die betrokke gebied in Mei 2017 besoek het – misluk het om teen die voortslepende onwettige mynbedrywighede op te tree.

“Dit is een van AfriForum se kernbeginsels om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder en te bekragtig. Die privaatvervolgingseenheid, in lyn met sy verklaring om selektiewe vervolgings en daardie persone of instellings wat teen vervolging beskerm word, aan te pak, het geen huiwering gehad om stappe te neem om te verseker dat die Ndebele Vaaltyn-stam nie onbillik hanteer word deur ’n mislukking om die beweerde onregmatige aksies aan te spreek nie,” sluit Nel af.

Soortgelyke plasings