| |

AfriForum se Sasolburg-tak is grassny se baas

Die AfriForum-tak in Sasolburg se toerusting het in Februarie daartoe bygedra dat 43 inwoners 34,1 ha gras gesny het en 5,3 ha skoongemaak het. Hierdie groot werk is gedoen omdat die taklede toenemend van die tak se toerusting gebruik maak om hul omgewings op te knap. Daar is ook ’n reuse-slaggat van 4,5m vierkante meter met 23 sakkies teer herstel. Die tak het ook vir die Van Riebeeck-gemeenskapsentrum ’n wasbakstaander gebou.

Die plaaslike AfriForum-buurtwag is net so besig, veral in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die buurtwag doen elke Sondag vir twee ure patrollie by die begraafplaas om inwoners se veiligheid te verseker terwyl hulle hul geliefdes se grafte besoek. Verder doen patrollielede elke dag patrollies in die woonbuurte en industriële gebied. Daar is ’n padblokkade saam met die SAPD gehou waar boetes uitgereik en arrestasies gemaak is. Tydens ’n skoolbesoek saam met die SAPD is daar op sigarette, dagga en dwelms beslag gelê. Hierdie sake is deur die skool saam met die ouers opgeneem. Onwettige drankverkope is ook getakel.

Die tak het verskeie instansies gehelp wat betrokke is by die uitroei van waterslaai uit die Vaalrivier. Daar is fisies hard gewerk om te help om die waterslaai en hiasinte uit die rivier te verwyder.

Die takbestuur het ook ’n vergadering met die waarnemende munisipale bestuurder en direkteure van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit gehad waar knelpunte ten opsigte van dienslewering bespreek is. Die tak sal die vordering fyn dophou.

Die tak se maandelikse mark, wat in die Hoëveldse Tuine gehou is, sal nou verskuif na ’n nuwe venue. Die eerste mark sal op 30 Maart by Die Veiling plaasvind Dit beloof om baie gesellig te wees en die hele gemeenskap word daarheen uitgenooi.

“Hierdie tak se sukses word toegeskryf aan hul goeie samewerking en die feit dat lede van die gemeenskap self inspring en met die harde arbeid help. Hoe meer mense betrokke raak, hoe meer kan gedoen word en hoe beter kan die dorp lyk,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van die Mooirivier.

Indien jy graag by die Sasolburg-tak se projekte betrokke wil raak, kontak Marjoné Cooks by 061 925 1804.

Soortgelyke plasings