| |

AfriForum-buurtwag verseker dat vermeende moordenaar en transitorower vasgetrek word

’n Verdagte wat met ’n moord én transitorooftogte verbind word, het in Maart sy rieme styfgeloop in die Moot. Die suksesvolle arrestasie van dié verdagte is grootliks te danke AfriForum se Groter Moot-buurtwag se inligtingsnetwerk.

Die Groter Moot-buurtwag het gedurende Maart 89 suksesvolle patrollies, oftewel nagenoeg drie patrollies per dag, afgehandel en in die bestek van 103 man-ure patrollies afgelê en ’n totaal van sowat 1 230 km ver gery in die lengte en breedte van die strate in die Moot.

In die ware veg-en-bou-tradisie van AfriForum, het die Groter Moot-tak se buurtspan ook gedurende Maart hul bouwerk voortgesit en onder meer talle slaggate in dié gebied laat les opsê, sowat 6 hektaar gras gesny en bykans 400 man-ure se werk ingesit met bossiekappers om sypaadjies, parke en oop velde in die Moot skoon te sny. Daarbenewens het die drie buurtspanlede ook gedurende Maart waardevolle messelopleiding ondergaan wat dié spanlede toegerus het met vaardighede om onder meer projekte vir die bou van parkbankies in dié streek aan te pak.

“Die tak is toegewyd daaraan om ’n skoner én gesonder omgewing vir hierdie gemeenskap te skep. Ons is verheug oor die suksesse wat die Groter Moot-tak se projekte tot dusver behaal het en ons is oortuig dat hierdie projekte – hoe groot of hoe klein dit ook al mag lyk – elkeen ’n positiewe impak sal hê op die veiligheid van die Moot en sy mense, op die estetiese waarde van die gebied sowel as die algehele welstand van die Moot se inwoners,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Soortgelyke plasings