|

Bloemfontein-buurtwagte hou massapatrolie

Die AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het op 14 Oktober in samewerking met die plaaslike SAPD, die GPF, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid op te skerp. Dié aksie het omstreeks 20:00 begin en tot ongeveer 03:00 die volgende oggend voortgeduur.

’n Gesamentlike operasie deur AfriForum se lugvleuel, AfriForum se Sektor 3- en Sektor 5-tak, die GPF-sektor 3, ITR-sekuriteit en Bloemsec-sekuriteit is suksesvol in Kwaggafontein – bekend vir bosslapers en skuilplek vir ongewensde elemente – uitgevoer. Verskeie gevaarlike wapens en dwelmpype is afgeneem.

Altesaam 120 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en 1 996 km is in 60 voertuie afgelê. Die hoofdoel van die patrollie was om sigbaarheid in die onderskeie gebiede te verhoog en sodoende misdaad teen te werk.

“Die Bloemfontein-buurtwagte, in samewerking met die plaaslike SAPD en ander veiligheidsinstansies, sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies hou om misdaad hok te slaan en veiligheid te bevorder. Dit is belangrik dat gemeenskappe en organisasies handevat om misdaad te bekamp. Die verhoogde sigbaarheid in die betrokke buurte speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

AfriForum wil graag elke patrolleerder en ander rolspelers vir hul opofferings bedank. 

Raak by AfriForum betrokke en help om jou gemeenskap te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings