|

Beoogde regstappe stuit Eskom-vrystelling

AfriForum verwelkom Enoch Godongwana, die minister van Finansies, se besluit om die vrystelling wat aan Eskom gegun is oor hoe hy oor wanbesteding verslag moet doen, tydelik terug te trek. Dit volg nadat AfriForum vroeër met sy regspan gekonsulteer het om ’n hersieningsaansoek te bring sodat hierdie besluit van die nasionale tesourie tersyde gestel word. Dié burgerregteorganisasie se regspan gaan dus nie in hierdie stadium voort met regsoptrede nie.

Hierdie terugtrekking bevestig net die belangrikheid van die Openbare Finansiële Bestuurswet en dat dit noodsaaklik is dat hierdie wet nie omseil moet word nie. Dit verseker ook dat daar deursigtigheid by alle staatsentiteite is en dat Eskom nie hul finansiële state kan manipuleer om beter te laat vertoon nie.

“AfriForum was reeds besig om ’n aansoek op te stel om die aanvanklike besluit te laat hersien en ons regspan is steeds gereed om op te tree indien iets verander. AfriForum sal dus die situasie fyn dophou. Ons beskou hierdie tydelike terugtrekking as ’n oorwinning vir AfriForum en gemeenskappe regoor Suid-Afrika. Die minister moet eerder fokus op die finansiële rapportering binne Eskom en die probleme wat daar reeds is met die aanbodkettingbeheer asook om die verkwiste en vrugtelose uitgawes aan te spreek. Die minister moet eerder poog om die algehele bestuur van Eskom te verbeter eerder as om slim planne te probeer maak om Eskom se beeld en finansiële state beter te laat lyk,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikeregeringsake.

Mostert sê voorts dit is ook ’n deurbraak dat die ramptoestand oor die kragkrisis vandag na net twee maande beëindig is. Pres. Cyril Ramaphosa het in Februarie die ramptoestand in sy staatsrede aangekondig. Die rampregulasies het onder meer ingesluit dat sekere kritieke infrastruktuurdienste van beurtkrag vrygestel word.

“Die opheffing van die ramptoestand is ’n bewys dat die regering onder burgerlike druk swig en hopelik besef dat ‘n ramptoestand nie nodig is om die krisis op te los nie,” sê Mostert.

Soortgelyke plasings