| |

AfriForum rig dringende skrywes aan Tshwane-, Johannesburg- en Ekurhuleni-metro oor toestand van riviere

AfriForum het op 27 Oktober ’n dringende skrywe aan die Tshwane-, Johannesburg- en Ekurhuleni-metro gerig oor onverwerkte riool wat in die Hennops-, Kaalspruit- en Sesmylspruitrivier invloei.

Dié drie riviere word al vir jare reeds erg besoedel weens onverwerkte riool wat uit mangate stroom en gereelde rioolstorting wat plaasvind. AfriForum het voorheen skrywes oor die probleme gerig, maar geen terugvoer van die owerhede ontvang nie. Voor die besoedeling het dié riviere gespog met ’n florerende vis- en voëllewe, en dit was ’n plesier om langs dit te woon.  Vandag is die prentjie egter heel anders: Inwoners kan nie eens meer hul venters en deure oop los nie omdat dit so walglik stink.

AfriForum doen ’n dringende beroep op die onderskeie metro’s om die rioolprobleme op te los en versoek ook ’n dringende vergadering met al drie metro’s sodat daar saam aan dié oplossings gewerk kan word. AfriForum versoek ook aksieplanne wat aandui hoe die omgewing herstel gaan word, die rioolbesoedeling stopgesit gaan word en doeltreffende infrastruktuur opgerig gaan word. Die organisasie wil ook hê dat kundiges aangestel word om ’n impakstudie van die omgewing doen sodat die werklike skade bepaal kan word.

“Dit is skokkend om te sien hoe onverwerkte riool in die riviere invloei en ’n ongesonde, stinkende omgewing skep. Daar is inwoners wat spogerwe langs dié riviere gekoop het, maar wat vandag oor ’n rivier vol riool uitkyk. AfriForum sal aanhou om druk op die metro’s te plaas om te verseker dat die probleem opgelos word en antwoorde daaroor verskaf word,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Suid-area.

“Dit is onaanvaarbaar dat die metro’s se nalatigheid veroorsaak dat gemeenskappe in sulke walglike omstadighed moet woon. AfriForum doen ’n dringende beroep op die metro’s om antwoorde aan die gemeenskappe te verskaf oor die toestand van die riviere,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Suid.

Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-area, sê dit is vir die gemeenskap ’n groot frustrasie as hulle geen reaksie kry wanneer hulle probleme aanmeld nie. “Dit is daarom belangrik om by AfriForum se strukture aan te sluit sodat ons hierdie probleme saam kan oplos.”

“Gemeenskappe het die reg tot ’n gesonde en veilige omgewing. Dit is tans glad nie die geval nie en daar moet daadwerklik opgetree word om dit te verbeter,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum het die metro’s 15 werksdae gegee om aksieplanne voor te lê en ’n dringende vergadering met die nodige rolspelers te reël. Die organisasie sal voortgaan om die situasie dop te hou om te verseker dat die nodige aandag daaraan geskenk word.

AfriForum nooi die gemeenskap uit om by dié organisasie se toekomstige projekte en veldtogte betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings