|

Senzo Meyiwa-moordsaak uitgestel tot 27 November

Die burgerregteorganisasie AfriForum – wat die Meyiwa-familie in die ondersoek na die 2014-moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa verteenwoordig – was vandag saam met sy broer Sifiso in die Boksburg Landdroshof, waar vyf verdagtes ná hul inhegtenisname gister deur die SAPD vir die eerste keer verskyn het. Die saak is tot 27 November uitgestel.

Die verdagtes is geïdentifiseer as Muzikawulahlelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokosizi Maphisa en SifikuhleNkani Ntuli Sifiso.

“AfriForum het gister bevestig dat Senzo Meyiwa se dood nie die gevolg is van ’n rooftog wat skeefgeloop het nie, maar dat dit inderwaarheid ’n sluipmoord was. Die inhegtenisname en verskyning van die vyf verdagtes is maar net die begin van die proses om geregtigheid te laat geskied, want die meesterbrein agter die sameswering is nog nie in hegtenis geneem nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, bevestig gevalle soos hierdie waarom instellings soos die privaatvervolgingseenheid noodsaaklik is om toe te sien dat geregtigheid geskied.

“Ons is dankbaar dat die SAPD die afgelope paar maande bereid was om adv. Nel en AfriForum se privaatvervolgingseenheid by die ondersoek te betrek. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal aanhou om die Meyiwa-familie in dié saak te ondersteun en sal voortgaan om die saak in belang van geregtigheid te moniteer,” sê Kriel.

Sifiso het namens die Meyiwa-familie gesê dat hulle trots is om met AfriForum verbind te word en dat hulle bly is dat die organisasie die nodige stappe gedoen het om uiteindelik vordering in die saak te bewerkstellig. “Ons is dankbaar oor die inhegtenisnemings, maar ons bly bekommerd oor die feit dat die meesterbrein nog nie in hegtenis geneem is nie. Ons is steeds vol hoop dat meer inhegtenisnemings gaan volg.”

 

Soortgelyke plasings