| | |

Dwarskersbos: AfriForum versoek duidelikheid oor ondersoek na Pedro

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het op 5 Junie 2020 in reaksie op ’n brief van adv. Etienne Vermaak, die Bergrivier Munisipaliteit se regsverteenwoordiger, duidelikheid versoek oor hoeveel ondersoeke daar tans is na die optrede van Jerome Pedro, ’n verkeersbeampte in Dwarskersbos, asook waarom adv. Hanlie Linde, die munisipale bestuurder, ingesluit word by kommunikasie oor ’n ondersoek waarin haar optrede ook ondersoek behoort te word.

AfriForum verteenwoordig tans vyf inwoners van Dwarskersbos wat tydens die inperkingstydperk deurgeloop het weens Pedro se beweerde onbillike en arbitrêre optrede. Die Privaatvervolgingseenheid het Pedro se skorsing versoek, asook dat die strafregtelike klagtes teen dié individue vir die sogenaamde oortreding van inperkingsregulasies teruggetrek word.

Adv. Linde het volgens die munisipaliteit self die aanvanklike ondersoek teen Pedro behartig en bevind dat daar niks met sy optrede geskort het nie. Sy het ook na bewering op haar privaat blog neerhalende inskrywings teenoor van die inwoners van Dwarskersbos gemaak ná afloop van die arrestasie van Ludwig Gericke. AfriForum het verlede week in ’n brief aan Ray van Rooy, burgemeester van Bergrivier, geëis dat Linde se optrede ook ondersoek word. As adv. Vermaak, die nuwe ondersoeker, aan adv. Linde rapporteer (soos wat uit die kommunikasie van die munisipaliteit blyk), sou dit volgens AfriForum onreëlmatig wees en beteken dat hy nie die nuwe, tweede ondersoek op ’n onafhanklike wyse sal kan doen nie.

Die munisipaliteit het ook nog geen van die aangevraagde bewysstukke in die aanvanklike ondersoek na Pedro verskaf nie.

“AfriForum se Privaatvervolgingseenheid sal nie toelaat dat die munisipaliteit ’n vinnige, eensydige ondersoek na onbehoorlike optrede doen en persone dan summier onskuldig bevind nie. Ondersoeke soos hierdie vereis ’n ondersoekbeampte wat werklik onafhanklik is en ons sal aanhou om in die beste belang van ons kliënte op te tree om te verseker dat geregtigheid geskied en die skuldige partye verantwoordbaar gehou word,” sê Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir hierdie saak.

  • Lees die brief hier.

Soortgelyke plasings