|

AfriForum rig skrywe aan Dihlabeng-munisipaliteit oor toestand van vullisterrein

AfriForum het ’n skrywe aan die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit in Bethlehem gerig oor die toestand van die Môrelig-vullisterrein.

Die terrein, wat tussen Bethlehem se woongebiede geleë is, is ’n groot bron van kommer en ’n steen des aanstoots vir die gemeenskap. Vullis word buite die terrein gestort en waai gevolglik in die woonbuurte in. Onwettige vure word ook op die terrein gemaak en die rook daarvan hang dan oor die woonbuurte.

“AfriForum wil die munisipaliteit met dié skrywe tot aksie dwing sodat die terrein spoedig weer op peil gebring kan word. Die toestand van die terrein is ondraaglik en AfriForum sal alles in ons vermoë doen om die gemeenskap by te staan,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Die munisipaliteit is tot 4 Februarie 2020 geleentheid gegun om op AfriForum se skrywe te reageer. Indien geen terugvoer ontvang word nie, sal die nodige stappe gedoen word om te verseker dat die terrein skoongemaak word en die kostes daarvan van die munisipaliteit verhaal word.

AfriForum wil graag die gemeenskap aanmoedig om by die organisasie betrokke te raak en saam ’n beter toekoms te skep. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Bethlehem” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings