|

Verhoordatum vasgestel vir weermagoffisier wat MIV versprei

Die oudweermagoffisier wat ’n medelid van die weermag opsetlik met MIV besmet het en nou van poging tot moord aangekla word, se verhoor sal op 27 Januarie 2021 begin. AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans die slagoffer by. Die beskuldigde het vandag weer in die hof verskyn ten einde ’n afskrif van die dossier in die saak teen hom te bekom. Sy regsverteenwoordiger het aangevoer hy is nie beskikbaar vir die res van die jaar nie en het tyd nodig om die dossier te bestudeer.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in 2018 by hierdie saak betrokke geraak nadat ’n lid van die media die eenheid om bystand genader het. Die eenheid het ná oorlegpleging met die aanklaer verneem dat die weermag versuim het om die nodige inligting aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te verskaf. Ná volgehoue druk deur die eenheid is die dossier nou volledig en kon die NVG voortgaan om die beskuldigde aan te kla.

“Hierdie saak sloer nou al vir meer as drie jaar en AfriForum verwelkom die vasstelling van ’n verhoordatum. Ons sal voortgaan om die saak te moniteer en die klaagster by te staan om toe te sien dat geregtigheid geskied,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings