| | |

Oorwinning: Dlamini-Zuma se gedwonge kwarantynregulasies geskrap

AfriForum het vandag ’n oorwinning behaal in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria toe Regter J. W. Louw die burgerregteorganisasie se dringende aansoek toegestaan het om dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, se kwarantynregulasies (wat self-isolasie verbied) ongeldig te laat verklaar. Dié regulasies, wat volgens AfriForum irrasioneel en drakonies is, was daarop gemik om almal wat positief toets vir COVID-19 onder verpligte staatskwarantyn te plaas.

Die Minister het toegegee dat AfriForum se aansoek ’n bevel van die hof gemaak word wat bepaal dat die regulasies só gelees moet word dat persone wat doeltreffend kan self-isoleer, toegelaat moet word om dit te doen.

AfriForum se aansoek het berus op die feit dat dié regulasies volgens die organisasie ongrondwetlik, onwettig en irrasioneel sou wees. Die regulasies het onder meer bepaal dat almal wat positief toets vir COVID-19 – ongeag of hulle simptome toon – in die regering se isolasiefasiliteite geplaas sou word. Die departement het versuim om AfriForum se aansoek teen te staan.

Dié regulasies sou aan die staat die mag gee om mense sonder hul toestemming in kwarantyn te dwing – selfs in omstandighede waar die persoon in staat sou wees om doeltreffend te self-isoleer. Dit sou gevolglik aan wetstoepassers en die staat té veel mag gegee het onder die vaandel van die bekamping van die verspreiding van die virus.

“Die belangrikheid van burgerregteorganisasies en instellings wat outokratiese en irrasionele regeringsbesluite teenstaan, het tydens hierdie inperkingstyd al hoe duideliker geword. Wanneer die regering sy mag misbruik en die publiek probeer boelie deur mense se regte te skend, sal AfriForum daarteen opstaan – ten bate van almal in die land,” sê Monique Taute, hoof van veldtogte by AfriForum.

Hierdie is die tweede hofoorwinning wat AfriForum teen die regering behaal het met betrekking tot kwarantynregulasies. Dieselfde hof het vroeër in Mei beslis dat die haglike Zithabiseni-kwarantynkamp naby Groblersdal gesluit moet word en dat die mense toegelaat moet word om huis toe te gaan.

“By monde van die Verenigde Nasies is Suid-Afrika se inperkingsregulasies toksies. Dit blyk dat hierdie regulasies lankal nie meer vir die regering oor die stryd teen die koronavirus gaan nie, maar eerder ontaard het in ’n poging om die ANC se eie kommunistiese agenda te bevorder,” sluit Taute af.

Sien vorige verklaring: https://afriforum.co.za/afriforum-hof-toe-oor-dlamini-zuma-se-irrasionele-kwarantynregulasies/

Soortgelyke plasings