|

AfriForum se Besigheidsbytjiespan en Raising Brightness besoek Laerskool Muldersdrif-entrepreneursdag

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Besigheidsbytjiesspan het op 23 September by die Laerskool Muldersdrif tydens hul entrepreneursdag besoek afgelê as deel van hierdie aanlynentrepreneurskompetisie se bemarkingstoer. Raising Brightness, ook ’n borg van die kompetisie, het ’n spesiale prys vir die beste entrepreneurs van die Laerskool Muldersdrif gegee nadat leerders hul sakeplan uit Raising Brightness se boek, Bou ’n besigheid! Vir jong entrepreneurs, voltooi het.

Die twee beste vriendinne, Natalee Beuthe en Illisa Labuschagne (albei graad 7), se stalletjie, Foto in ’n happie, het die Laerskool Muldersdrif se entrepreneursdag gewen. Hulle het lekkernye verkoop en saam met die lekkernye het elke kliënt dan ’n gratis foto ontvang wat deur ’n Instax-kamera geneem is. Natalee en Illisa het ’n R1 000-geskenkbewys van Raising Brightness gewen.

AfriForum het reeds in 2019 die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie met groot sukses van stapel gestuur. Die kompetisie is intussen uitgebrei deur voorsiening te maak vir hoërskoolleerders wat ’n passie en kop het vir besigheid. Hierdie jaar spog dié kompetisie met twee splinternuwe kategorieë, naamlik die AfriForum Wêreldwyd-kategorie (vir Suid-Afrikaners in die buiteland) en die Saai-kategorie (entrepreneurs wat ’n liefde het vir landbou).

“AfriForum glo die Besigheidsbytjies-kompetisie sal leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul unieke en innoverende idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap.

“Nadat AfriForum Sakenetwerk in 2017 die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie begin het, het ons gesien dat daar ook kinders is wat graag wil deelneem en hulle entrepreneursvaardighede ten toon wil stel. Dit is nou die vierde jaar wat ons die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie aanbied en dit is verblydend om te sien hoe die belangstelling jaarliks vermeerder en dat kinders ook raaksien hoe belangrik hulle ondernemings vir die ekonomie van Suid-Afrika is,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

“Raising Brightness se Bou ’n Besigheid! Vir jong entrepreneurs is ’n kurses vir kinders oor hoe om ’n besigheid op ’n jong ouderdom van stapel te stuur. Dit fokus op hoe geld gemaak kan word om probleme op te los. Die kurses dek onderwerpe soos idee-generering vir ’n onderneming, hoe om ’n naam en logo te kry, kosteberekening, bemarkingstrategieë, asook lekker praktiese elemente soos hoe om ’n webblad en pamflette te ontwerp. Jy kan individueel deur die boek werk of aanlynklasse bywoon,” sê Yolanda Grobler, stigter van Raising Brightness.

“Entrepreneurskap is broodnodig in die Suid-Afrikaanse, maar ook wêreldekonomie. Met die huidige omstandighede skep blootstelling aan entrepreneurskap die ideale platform vir kreatiewe maats om met hulle selfkennis en vermoëns geleenthede in hulle omgewing raak te sien. Entrepreneurskap is ’n uitdaging aan elke Mullie-leerder om  met probleemoplossings vorendag te kom en te dink en te leef volgens sakeplankenmerke. Dis heerlik om ons leerders te sien moeite doen, saam- en hard te werk , kreatief te dink, te beplan en ook om só ouers betrokke kry vir  die spesiale dag,” sê Herman Byleveld, hoof van Laerskool Muldersdrif.

Leerders, ouers en onderwysers kan www.besigheidsbytjies.co.za besoek vir meer inligting of om in te skryf vir dié kompetisie. Aanlyn-inskrywings sluit 11 Oktober 2022 en daar is ook ’n kontantprys vir die skool met die meeste inskrywings. Stuur gerus ’n e-pos na besigheidsbytjies@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings