|

Onbeholpe onderwysdepartement kelder nie presterende matrieks nie, maar faal steeds die jeug

AfriForum wens alle matrikulante, wat in 2021 hul skoolloopbaan suksesvol voltooi het, van harte geluk met dié prestasie en bedank die onderwyspersoneel wat dit ten spyte van uiters uitdagende omstandighede moontlik gemaak het. Dat die COVID-19-pandemie ’n invloed op die slaagsyfer sou hê, is te verwagte, maar afgesien daarvan is AfriForum se mening dat die Departement van Basiese Onderwys steeds die jeug van die land in die steek laat.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, vergelyk AfriForum al meer as ’n dekade lank die aantal leerders wat in ’n jaar in graad 1 ingeskryf word, met die aantal wat hulle skoolloopbaan aan die einde van twaalf jaar voltooi. Die statistiek kan op vele wyses gestruktureer word, byvoorbeeld met of sonder die insluiting van privaat of onafhanklike skole se matrikulante, of diegene wat die jaar herhaal het. Die slotsom bly egter dat sowat ’n derde of meer van die leerders uit die stelsel verdwyn voor hulle matriek slaag. Weens die departement se swak hantering van die pandemie is daar in dié verband al in 2021 kommer uitgespreek oor die sowat 200 000 leerders wat in 2021 nie teruggekeer het skool toe nie.

“In aansluiting hierby sien ons weer vanjaar dat duisende leerders wat wel terugkeer, nog nie in skole geplaas is nie, of nog nie die nodige leermateriaal ontvang het nie. Die pandemie het ’n handige verskoning geword vir die gebrek aan dienslewering aan gemeenskappe deur te sorg dat daar voldoende skole gebou word en funksioneel bedryf word,” voeg Bailey by.

In Julie 2019 het die hoë hof in Pietermaritzburg byvoorbeeld ten gunste van die Nkungumathe gemeenskap, bygestaan deur AfriForum, in KwaZulu-Natal beslis dat die provinsiale onderwysdepartement verplig is om ’n skool vir hulle te bou, soos wat toe al meer as ’n dekade tevore onderneem is. Tot op hede het die bouwerk egter nog nie ’n aanvang geneem nie, met begrotingsuitdagings weens COVID-19 as verskoning. Wanneer ’n matriekklas dus eendag daar hulle skoolloopbane sal kan voltooi, is ’n ope vraag. Intussen moet leerders kilometers ver stap na oorvol skole, slange en riviere in vloed trotseer en tot tien saam uit een handboek probeer werk. Dit is maar een voorbeeld van die staat se mislukking wat direk tot die land se rekord hoë jeugwerkloosheidsyfer bydra. Die aanpassing van slaagvereistes en punte los nie die situasie op nie, maar vererger dit, omdat matrikulante daardeur minder indiensneembaar word.

Bailey beklemtoon dat oplossings onder meer gevind kan word in die verantwoordelike en doeltreffende aanwending van die land se enorme onderwysbegroting, ’n verhoogde aanbod van moedertaalonderrig, streng optrede teen ideologies-gedrewe polariserende uitsprake en optrede (soos dié van Gauteng se LUR vir Onderwys, Panyaza Lesufi), doeltreffende kurrikulumopsies, die voorkoming van onderwysersvakbonde se inmenging wat skole deur arbeidsoptrede verlam, die skep van meer opleidingsgeleenthede vir onderwysers, asook die aanspreek van ’n gebrek aan dissipline onder leerders en onderwyspersoneel. AfriForum bly toegewy tot die beskerming van leerders se regte op dié terreine.

Soortgelyke plasings