| |

Bela-wetsontwerp: Die stryd duur voort

Die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys het vandag weer eens die bespreking van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wet) voortgesit. Volgens AfriForum is daar steeds geen aanduiding dat die besware oor veral klousules 5 en 6 van die konsepwet, wat oor beheerliggame se finale besluitnemingsreg oor taal- en toelatingsbeleide handel, werklik in ag geneem word nie.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, beweer lede van die komitee en woordvoerders van die Departement vir Basiese Onderwys dat daar geen agenda teen Afrikaans is nie en dat beheerliggame steeds kan appelleer na die provinsiale onderwyshoofde as hulle nie tevrede met beslissings oor taal- en toelatingsbeleide is nie. Al word prosesse vir die goedkeuring van dié beleide aangepas, sal die regering steeds die finale besluitnemingsmag daaroor hê – anders as wat tans die geval is met beheerliggame uit die gemeenskap wat hieroor mag beslis.

“Daar was al te veel uitsprake van amptenare en politici oor die onwenslikheid van eentalige Afrikaanse skole en die departement se voorneme om dié skole na parallel- of dubbelmedium instellings te transformeer. Die gerusstellings kan nie ernstig opgeneem word nie,” sê Bailey. Sy het na dr. Reginah Mhaule, adjunk-minister van Basiese Onderwys se uitsprake verlede week dat leerders nie op grond van taal deur skole weggewys kan word nie, as ’n onlangse voorbeeld in dié verband verwys.

“Die voortbestaan van eentalige onderriginstellings is die hoeksteen van moedertaalonderrig in enige taal is en is veral noodsaaklik wanneer ’n kleiner taal soos Afrikaans teenoor ’n groot wêreldtaal soos Engels te staan kom. Oplaas verdring die groot taal die kleineres, ’n scenario wat ons die afgelope dekade by vele skole en universiteite sien afspeel het.”

“Die klousules in die Bela-wetsontwerp is ’n berekende aanslag teen enige instelling wat moedertaalonderrig volhoubaar wil aanbied, tensy dit Engelse moedertaalonderrig is. Op grond hiervan is AfriForum steeds met voorbereiding vir regsaksie daarteen besig, tensy die klousules as geheel geskrap en die huidige status quo behou word,” sê sy.

Soortgelyke plasings