|

AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte neem deel aan nasionale patrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het op 8 Julie deelgeneem aan ’n nasionale patrollie in hul onderskeie gebiede om polisiëringsigbaarheid te verhoog. Die patrollie is in samewerking met die SAPD, die nooddienste, verskeie sekuriteitsmaatskappye, plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums en ander veiligheidsinstansies uitgevoer.

Altesaam 173 AfriForum-lede in Bloemfontein en 43 ander rolspelers het aan die patrollie deelgeneem en 2 108 km in 84 voertuie afgelê. Die patrollie het omstreeks 20:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend geduur.

Die buurtwagte het hulp met verskeie voorvalle verleen en drie veiligheidsoperasies is suksesvol uitgevoer met behulp van die AfriForum lugsteun-span en hul hommeltuig toerusting.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol in misdaadbekamping en AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereelde patrollies organiseer, in samewerking met die SAPD en verskeie sekuriteitsdienste, om misdaad te bekamp. Dit is ook wonderlik om te sien dat ons buurtwagte met nuwe patrolleerders versterk word om die gemeenskap by te staan. Ons nooi alle lede uit om deel te word van die dinamiese span patrolleerders. Opleiding word voorsien om ons lede te bemagtig met die regte kennis en toegerus met die nodige toerusting” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Die volgende buurtwagte het deelgeneem aan die nasionale patrollie:

  • Rayton-Heuwelsig Buurtwag
  • Bloemfontein-Noord Buurtwag
  • Bloemfontein-Noord Landelike Buurtwag
  • Langenhovenpark Buurtwag
  • Wilgehof Buurtwag
  • Pellissier Buurtwag
  • Fichardtpark Buurtwag
  • Uitsig Buurtwag
  • Hospitaalpark Buurtwag
  • Leeuwberg Buurtwag

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak, SMS “Bloemfontein” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings