|

Philippi-plaaswag neem deel aan nasionale massapatrollie

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Philippi-plaaswag het op 8 Julie aan ’n landwye sigbaarheidspatrollie deelgeneem ten einde misdaad te voorkom. Die patrollie het tot die volgende oggend voortgeduur.

Die Philippi-plaaswag was betrokke by ’n baie suksesvolle padblokkade in samewerking met die SAPD en verkeersdienste waar meer as 140 voertuie deursoek is. Altesaam 130 boetes ter waarde van meer as R40 000 is uitgereik, terwyl daar ook arrestasies gemaak is vir die besit van dwelms en dronkbestuur.

“Te danke aan AfriForum se vrywilligers kan ons hierdie patrollies volhoubaar in verskeie buurte voortsit. Ons takstrukture en ondersteuners maak hierdie veiligheidsoperasies en die deurlopende opleiding wat ons patrolleerders ontvang, moontlik. Hierdie fisiese, tegnologiese en wetgewende opleiding maak van ons strukture ’n merkwaardige bate, wat al meer deur die SAPD en verkeerspolisie op grondvlak betrek word. Ons skroom nie om alleen te werk nie, maar verwelkom enige ander groep of organisasie wat ook die veiligheid van hul buurt op die hart dra,” sê Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se strukture in die Boland betrokke te raak en deel te word van die oplossing. Sluit vandag nog aan: SMS “Boland” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings