|

AfriForum verwelkom uitstel vir skriftelike kommentaar op BELA – moedig  publiek aan om deel te neem

Die spertyd vir ’n belangrike geleentheid vir die publiek om opnuut skriftelike kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wetsontwerp) te lewer, is van 19 tot 31 Januarie 2024 uitgestel. AfriForum het dié aankondiging deur die verkose komitee oor Onderwys en Tegnologie, Sport, Kuns en Kultuur van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verwelkom.

AfriForum se kommentaar is reeds ingedien, maar weens die erns van die saak, meen dié organisasie dat elke geleentheid om kommentaar teen die kommerwekkende aspekte van BELA in te dien, aangegryp moet word. Weens die afgelope feesseisoen was dit nie vir alle belanghebbendes moontlik om hul kommentaar betyds te finaliseer nie, en nou het hulle nog twee weke om dit te doen.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, bevat die konsepwet voorstelle wat ’n ernstige bedreiging vir die toekoms van gehalte onderrig oor die algemeen, en Afrikaanse moedertaalonderrig in die besonder inhou. Dit behels onder meer dat indien dit in die huidige formaat aanvaar word, gemeenskappe en ouers se besluitnemingsmagte oor kernaspekte van hul kinders se onderwys beëindig sal word. Die konsepwet stel ook voor dat die finale besluite oor skole se toelatings- en taalbeleide deur die provinsiale onderwyshoofde geneem moet word. Hierdie magte berus tans by demokraties verkose beheerliggame en nie by die owerhede nie.

“Gemeenskappe het ’n reg om self oor die taal van en toegang tot hul skole te besluit. Moedertaalonderrig is noodsaaklik vir die beste leeruitkomste. Beheerliggame spandeer ook jaarliks miljoene rande om ekstra poste in skole te skep sodat kinders nie in oorvol klaskamers beland nie. Indien die huidige weergawe van die wetsontwerp aanvaar word, sal ouers hierdie finale besluitnemingsmagte verloor en kinders sal nog meer uitgelewer wees aan die politieke magspeletjies en administratiewe wanbestuur van die owerhede,” meen Bailey.

AfriForum doen ’n beroep op almal wat belange by ons kinders se toekoms het, om aan hierdie openbare raadplegingproses deel te neem, selfs al het hulle by vorige geleenthede reeds hieroor mondelinge of skriftelike kommentaar gelewer. “Elke geleentheid om die wetsontwerp teen te staan, moet ten volle benut word – die saak is té belangrik om enige kans vir kommentaar te ignoreer,” het sy gesê.

Indien die NRP die wetsontwerp in sy huidige formaat aanvaar, is die volgende stap dat die president moet besluit of hy dit gaan onderteken of nie. Die NRP kan dit egter ook verwerp of wysigings daaraan voorstel en dit is hier waar die publiek se insette deurslaggewend kan wees.

Meer inligting oor die wetsontwerp en die gevare wat die inwerkingstelling daarvan sal inhou, is beskikbaar op AfriForum se webblad, www.stopbela.co.za.

Soortgelyke plasings