|

AfriForum se buurtwag in Stellenbosch lewer veiligheidsdemonstrasie

Die burgerregteorganisasie AfriForum se buurtwag in Stellenbosch het op die aand van 9 Februarie ’n demonstrasie van nagsig-toerusting en hommeltuie aan die gemeenskap gelewer.

Die besluit is geneem om die nuwe tegnologie wat buurt- en plaaswagte help om misdaad te bekamp aan die publiek te demonstreer. Tydens die geleentheid het, Rihan Nieuwoudt van Moorreesburg, die drie nuutste nagsig-toerusting uitgestal en ’n demonstrasie gelewer. Van hierdie toerusting het hitte-opsporingstegnologie en kan beweging, vanaf drie tot so ver as twee kilometer naspoor.  Beeldmateriaal kan afgelaai, gestoor en op grootskerms vertoon word. Flitsligte wat areas van een kilometer kan verlig is gedemonstreer en die gemeenskap kon ook self die toerusting hanteer.

Die tak het verlede jaar ’n hommeltuig aangeskaf, en buurtwaglede het ’n kursus bygewoon om te leer hoe om dit te beheer. Die hommeltuig het nagsigvermoë en, Jac Pietersen, die buurtwagleier van Stellenbosch het gedemonstreer hoe hulle verdagte persone in die nag oor langafstande kan opspoor. Die lugvleuel het al verskeie kere aan die plaaslike polisie ondersteuning verleen.

Mense vanuit die gemeenskap asook mense wat ver gereis het, het die demonstrasie bygewoon om te sien watter toerusting beskikbaar is en watter tegnologie vir misdaadvoorkoming ingespan kan word.

“Misdaad raak meer georganiseerd, en die misdadigers meer vindingryk. Dit noodsaak gemeenskappe om tegnologie in te span, om hulle buurt- en plaaswagte te ondersteun. AfriForum se lugvleul is maar net een afdeling wat reeds meer as 80 hommeltuigvlieëniers  landwyd opgelei het om gemeenskappe, die SAPD, soek-en-redding en vele ander instansies te ondersteun,” sê  Johan Crous,  distrikskoördineerder vir die Boland. 

Om betrokke te raak, of aan te sluit: SMS “Boland” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings