|

Uitspraak voorbehou in saak van AfriForum en ander teen Johannesburg-metro oor onderwysinstellings se eiendomsbelasting

Die saak van AfriForum en ander teen die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit oor die buitensporige verhoging van onderwysinstellings se eiendomsbelasting is die afgelope twee dae virtueel in die Hooggeregshof in Johannesburg aangehoor. Dit volg op twee dae in November 2022 waartydens die saak ook aangehoor is, maar wat nie voldoende tyd was om die verhoor af te handel nie. Die regter het vandag uitspraak voorbehou.

Hierdie regsaksie volg nadat die metroraad weggedoen het met ’n eiendomskategorie wat vir onderwysinstellings gegeld het. Die gevolg is dat openbare instellings voortaan in die kategorie vir openbare dienseiendom aangeslaan sal word en privaat skole as openbare ondernemings. Die belastingkoerse in dié kategorieë is dramaties hoër, ongeag of privaat instellings daarvoor kwalifiseer om as organisasies sonder winsoogmerk erken te word en dus vir verligting in aanmerking kom.

“AfriForum neem sterk standpunt in teen hierdie herkategorisering en glo hierdie verhogings skep ook ’n gevaarlike presedent. Dit is vir ons belangrik om deur regsaksie soos hierdie die belange van alle belastingbetalers te beskerm,” het Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikeregeringsake, gesê.

Nie alleen is die skerp verhoging kommerwekkend nie, maar ook die prosedurele foute wat die metroraad gemaak het, byvoorbeeld dat openbare raadpleging nie oor die aanpassings gevoer is nie.

“Die voorlopige skikking dat onderwysinstellings steeds net vir die vorige finansiële jaar se tariewe verantwoordelik sal wees, en nie gedwing sal word om die nuwe tariewe te betaal nie, word verwelkom, maar bied geen langtermyn oplossing nie,” het Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, bygevoeg. “Die hof het gesuggereer dat AfriForum slegs een gemeenskap se belange in die saak verteenwoordig, maar dis nie die geval nie. Alle skoliere en studente in hierdie metropolitaanse gebied word geraak en nuwe tariewe van dié aard skep groot risiko’s vir die volhoubare voortbestaan van vele instellings. AfriForum is bekommerd dat van hulle hul deure sal moet sluit of sal moet besnoei op die gehalte van hulle onderrig as hierdie hoër tariewe in die huidige of toekomstige finansiële jare sou geld. Regsaksie was dus noodsaaklik om te verseker dat die spesiale aard van skole erken word in die kategorisering en tariefbepaling van hulle eiendomsbelasting.”

Soortgelyke plasings