| | |

AfriForum se buurtwagte in die noordstreek neem aan versetpatrollie deel

AfriForum se buurtwagte in die noordstreek het op 6 Junie 2020 aan AfriForum se nasionale versetpatrollie deelgeneem nadat daar heftige teenkanting van regeringsamptenare was dat buurtwagte tydens vlak 3 mag patrolleer. Die patrollie vorm ook deel van die amptelike aktivering van buurtwaginisiatiewe.

716 AfriForum-lede en 223 ander veiligheidsrolspelers het aan dié patrollie deelgeneem. Die patrollie is met 475 voertuie uitgevoer en 23 512 km is afgelê. Ongeveer 27 voorvalle is suksesvol tydens die patrollie hanteer.

Die ander instansies wat deelgeneem het, sluit in verskeie privaat buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye, gemeenskapspolisiëringsforums, insleepdienste, polisiestasies, plaaslike ondernemings, paramedici en verkeersafdelings.

Die goeie deelname aan dié patrollie – wat op kort kennisgewing gereël is – bewys dat gemeenskappe besef dit is noodsaaklik om hulself te beskerm. Die doel van AfriForum se nasionale patrollies is om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer, hoë sigbaarheid te bewerkstellig en om samewerking tussen veiligheidsrolspelers sowel nasionaal as plaaslik te verbeter.

“Met misdaad wat die afgelope tyd beduidend toegeneem het, is dit belangrik dat die staat besef hulle kan nie misdaad op hulle eie houtjie beveg nie. Die lae misdaadstatistiek wat tydens die nasionale patrollie aangeteken is, dui duidelik daarop dat dié tipe optrede help. AfriForum-buurtwagte dien as die oë en ore van die SAPD; volg altyd die voorgeskrewe riglyne en tree ook binne die raamwerk van die wet op,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings