|

GEVEG DREIG OOR MYNAANSOEK IN MARICO BIOSFEERRESERVAAT

AfriForum het vandag kommentaar ingedien om die ontwikkeling van mynbou-aktiwiteite in die Marico Biosfeerreservaat teen te staan. Lede van die Groot Marico-gemeenskap het die organisasie ingelig dat daar moontlik gebreke voorkom in die aansoekproses vir omgewingsmagtiging wat namens Legare Mining Services (Edms.) Bpk. deur Singo Consulting behartig word. AfriForum het ondersoek ingestel en as belanghebbende en benadeelde party geregistreer. Die organisasie het ook ’n spesialis aangestel om die assesseringsverslag en omgewingsimpakstudie deeglik te ondersoek.

Die doel van die aansoek is om vas te stel of daar genoeg minerale in die gebied is om ’n ekonomies lewensvatbare myn te begin. Legare Mining Services beplan om onder meer chroom, kobalt, goud, nikkel en platinumgroepmetale te ontgin. Die totale gebied beslaan 1 989 ha, waarbinne Legare Mining Services beplan om 15 boorgate vir prospekteerwerk te sink.

“Ek is gekontak deur lede van die gemeenskap en grondeienaars wat hul misnoeë uitgespreek het oor dié mynaansoek. Ons het ondersoek ingestel en gevind dat die openbaredeelnameproses gebreke toon, asook die aansoek vir omgewingsmagtiging in geheel. Een van die grootste probleme wat ons opgemerk het, is dat Singo Consulting hul verslag opgestel het met behulp van aanlyn navorsing, vorige studies en algemene kennis van die gebied. Dit is heeltemal verregaande. Die aansoek is boonop in die Brits Pos geadverteer – ’n  koerant wat glad nie in die Groot Marico-gebied verkoop word nie. Dus is die gemeenskap nie oor die aansoek ingelig nie. Sowel AfriForum as ander belanghebbende en benadeelde partye se vrae is nie voldoende deur Singo beantwoord nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, sê dit is nie die eerste keer wat AfriForum met Singo Consulting te doen het nie. “Die maatskappy was ook betrokke by ’n aansoek vir mynbedrywighede suid van die Nasionale Krugerwildtuin en is van beweerde bedrog aangekla. AfriForum gaan die proses fyn dophou en op aanbeveling van ons spesialis verdere stappe doen. Dit blyk of daar weer ongeruimdhede is.”

Soortgelyke plasings