AfriForum se Delareyville-tak herstel waterpomp


AfriForum se Delareyville-tak het’n onderdeel in een van die waterpompe vervang om die plaaslike gemeenskap van water lopende te voorsien. Dié spesifieke onderdeel kos skaars R200, maar die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit het klaarblyklik nie die nodige fondse om dit te betaal nie.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, duur die waterprobleem reeds ’n geruime tyd voor in al die dorpe wat onder die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit ressorteer. Onbevoegdheid en ’n gebrek aan infrastruktuuronderhoud is die belangrikste oorsake van die watertekort. Munisipale amptenare beskik dikwels ook nie oor vervoer om die pompe aan te skakel nie, en AfriForum-lede moes al dié probleem ook die hoof bied. Boonop het wanbetaling dié dorpe nou aan beurtkrag onderwerp, wat die waterkrisis verder bemoeilik.
Om sake te vererger, is munisipale werkers tans op ’n sloerstaking. Luidens gerugte is die rede vir dié staking pensioen- en mediesefondstoelae wat nie aan die betrokke instansies betaal word nie. Die stakers het hul misnoeë te kenne gegee deur vullisdromme in die dorp se strate en binne munisipale geboue om te keer, wat die wanorde in die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit duidelik ten toon stel.

“Die geld wat die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit aan die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit skuld, gaan beslis nie die probleme oplos nie – albei het ’n gebrek aan fondse. Hierdie situasie beklemtoon weereens die erns van bevoegde mense wat in munisipaliteite aangestel moet word en dat posisies nie deur ’n politieke spel bepaal moet word nie,” meen Pretorius.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak en deel te word van die oplossing.

Soortgelyke plasings