Maand van Selfstandigheid-veldtog: Moot-tak skenk bome, maak skoon


As deel van AfriForum se nasionale Maand van Selfstandigheid-veldtog het die organisasie se Moot-tak in Pretoria die afgelope naweek bome aan N.G. Kerk Rietfontein-Noord geskenk, asook ’n groot skoonmaakprojek in die voorstad van stapel gestuur, onder meer ’n spruit op die hoek van 15de Laan en Haarhoffstraat in Rietfontein wat in ’n haglike toestand was. Die plaaslike polisie en gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het ook aan dié aksies deelgeneem. 
Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se streekskoördineerder vir Gauteng-Noord, het die tak indringerbome verwyder en die gebied ontbos.

“Dit sal ook die sigbaarheid van die gebied vir patrolleerders verhoog. Sluipslapers en vermeende misdadigers skuil dikwels in dié gebied. Verskeie goedere wat vermoedelik gesteel is en dwelmmiddels word gereeld hier gevind,” sê De Klerk.

De Klerk sê voorts dat baie lede van die gemeenskap en plaaslike ondernemings by die projek betrokke was.

“Willem Pretorius van WPBC Konstruksie het ’n stootskraper en operateur beskikbaar gestel en ons het sowel ’n 6 as ’n 10 ton-trok gehuur. Meer as 12 vragte van onder meer takke en ander rommel is verwyder. Die Metropolisie het gehelp deur te reël dat die rommel gratis by die Onderstepoort-stortingsterrein afgelaai kon word. Verder het die gemeenskap met kettingsae, handsae en byle ingespring om te help. Die GPF en ander lede van die gemeenskap het vir verversings en drinkgoed gesorg.”
“Dit is wonderlik dat soveel verskillende mense en organisasies by gemeenskapsinisiatiewe betrokke is,” sê Werner Schultz, ondervoorsitter van die Moot-tak.
“AfriForum beplan nóg soortgelyke aksies in dié omgewing. Die volgende projek wat ons in November gaan aanpak, is om die heining by die treinspoor te herstel,” sluit De Klerk af.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en op dié wyse deel van ’n beter en groener toekoms te word. SMS “Groen” na 45341 (R1) of stuur ’n e-pos na lambert@afriforum.co.za om deel te neem.
 

Soortgelyke plasings