|

AfriForum se Elliot-tak plant bome by Hillview Primêre Skool

Die AfriForum-tak in Elliot het op 3 November bome by die Hillview Primêre Skool geplant om die skool se terrein op te helder. Drie palmbome (Arecaceae), een stinkhout (Ocotea bullata) en vyf eikebome (genus: Quercus) is by dié skool geplant.

Hannelie de Bruyn het die palmbome geskenk en Annett Cloete het die eikebome en witstinkhoutboom geskenk.

“Ons het die skool genader om uit te vind of daar iewers ’n behoefte is om bome te plant en die skool het ingestem dat ons die terrein met die nuwe bome kan verfraai. Ons hoop dat die bome wat geplant is in die toekoms baie skaduwee aan die leerders sal bied,” sê Christa Rossouw, voorsitter van AfriForum se Elliot-tak.

“In die onsekere tyd waarin ons leef, is dit belangrik om te weet dat ons die begin van lente – ’n nuwe begin – met so ’n projek kan vier. Om vanjaar ’n boom te plant, gee vir ons moed vir die toekoms, want ons plant vir die toekoms,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

“Deur net een boom te plant, is jy reeds besig om die omgewing te help. Dit is belangrik om nie net aan vandag te dink nie, maar om ook aan die toekoms te dink. Ons tak wil ook graag almal wat betrokke was bedank vir die skenkings, asook die goeie werk,” sluit Rossouw af.

Die tak moedig die Elliot-gemeenskap aan om by hierdie AfriForum-tak betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil in die dorp te maak. Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit.

Soortgelyke plasings