|

AfriForum se Walker Drive-buurtwag trek vermeende inbrekers vas

AfriForum se Walker Drive-buurtwag in Gqeberha het op 5 November 2023 tydens ’n gesamentlike patrollie met Rowallen Park se buurtwag twee vermeende inbrekers vasgetrek.

Die buurtwagte het in die vroeë oggendure twee verdagte persone opgemerk wat deur die woonbuurt dwaal. Nadat die twee persone voorgekeer is, is daar vasgestel dat hulle in besit was van gesteelde goedere wat die patrollielede na ’n adres in Kabegapark geneem het. Met die aankoms by die perseel kon die patrollielede geen reaksie by die woning kry nie. Die patrollielede het onmiddellik die SAPD in Kabegapark gekontak om bystand te verleen. Die SAPD het die perseel betree en die huiseienaar dood in die huis aangetref. Die buurtwagte het alle bewysstukke op die toneel aan die SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.  

Die SAPD is tans besig om die oorsaak van die oorledene se dood te ondersoek.

“Ons is dankbaar vir die goeie samewerking wat ons met die verskillende veiligheidsrolspelers in Gqeberha het. Dit help ons om ’n daadwerklike verskil in ons gemeenskap te maak. AfriForum versoek alle gemeenskappe om by hul plaaslike buurtwagstrukture betrokke te raak om sodoende na hul eie veiligheid, in samewerking met ander veiligheidsdienste in hul omgewing, te begin omsien. AfriForum betuig ook sy innige meegevoel aan die oorledene se familie,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

“Danksy die goeie samewerking tussen die verskillende rolspelers kon die nodige persone geskakel word sodat die verdagtes suksesvol gearresteer word. Dit is belangrik dat gemeenskapslede by hul plaaslike AfriForum-buurtwag inskakel,” sê Hannes Oosthuizen, leier van AfriForum se Walker Drive-buurtwag.

Klik hier en raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke.

Soortgelyke plasings