|

AfriForum se GOP-voorstelle aan Ramotshere Moila en Ditsobotla fokus op herstelwerk

Die AfriForum-takke in Zeerust, Lichtenburg en Coligny het hulle voorstelle vir die jaarlikse geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP) by die Ramotshere Moila Plaaslike Munisipaliteit en die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit ingedien. Al drie takke het voorgestel dat meer aandag aan instandhoudings- en herstelwerk gegee moet word.

Ramotshere Moila Plaaslike Munisipaliteit

Die Zeerust-tak stel voor dat ten minste 15% van die munisipale begroting vir die volgende drie jaar aan instandhoudings- en herstelwerk spandeer moet word. Volgens Pierre van der Walt, voorsitter van AfriForum se Zeerust-tak, is die verval in dié dorp tans so erg dat die munisipaliteit se pogings om te bou hoegenaamd nie kan opvang nie.

“Ons dorp word nie voldoende in stand gehou nie en dit is nodig dat die Ramotshere Moila-munisipaliteit nou moet fokus op instandhoudings- en herstelwerk. Ons kragdrade, watertoevoerpype en rioolstelsels kort dringend instandhoudingswerk,” sê Van der Walt.

Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, sê dat dit belangrik is vir takke om deel te neem aan die GOP-proses aangesien dit bydra tot gemeenskappe se ontwikkeling. “Ons het in die verlede voorstelle ingedien wat in die GOP opgeneem is en later suksesvol uitgevoer is.”

Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit

AfriForum se Lichtenburg- en Coligny-takke versoek dat die Ditsobotla-munisipaliteit meer moet fokus op instandhouding eerder as om groot salarisse te betaal aan mense wat nie hulle verpligtinge nakom nie. Volgens Viljoen spandeer dié munisipaliteit sowat 33% van die munisipale begroting aan salarisse.

Benewens dringende herstelwerk wat aan paaie en watertoevoerpype gedoen moet word, is ’n vullisterrein iets wat die gemeenskap kort.

Pine Pienaar, plaaslikeregeringsbeampte by AfriForum se Lichtenburg-tak, meen dat dit kommerwekkend is om te sien hoeveel fondse die munisipaliteit jaarliks genereer, maar dat die dorp niks daarvoor kan wys nie. “Dit is só belangrik om aan die GOP-proses deel te neem sodat ons vir die munisipaliteit kan wys watter areas dringend aandag nodig het. Ons weet nie wat doen hulle met die hele munisipale begroting nie, maar dit is tyd dat hulle meer fondse inspan om ons dorpe in stand te hou.”

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke by www.wordlid.co.za

Soortgelyke plasings