water
|

AfriForum waarsku inwoners van Upington om nie besmette water te drink nie

AfriForum het op 16 September uitslae ontvang wat bevestig dat die water in Upington nie geskik is vir menslike gebruik nie. Die toetse het gewys dat daar hoë vlakke E.coli asook fekale koliform in die water is. AfriForum het op 15 September watermonsters geneem by drie waterpunte in die Upington-distrik en dit by ’n SANAS geakkrediteerde laboratorium in Upington laat toets.

Die water is getoets ná inwoners van Upington dit onder AfriForum se aandag gebring het dat die water ’n onnatuurlike kleur en reuk het.

Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, het die watermonsters by drie van die waterpunte geneem wat in Upington geleë is. “Dit is ’n basiese mensereg om toegang tot skoon en drinkbare water te hê. Die uitslae van hierdie toetse wys net weereens dat die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit nie hul plig nakom nie en dus die inwoners van Upington se gesondheid ook nou in gevaar stel,” sê Strauss.

Strauss waarsku dat die inwoners nie kraanwater moet drink of op enige ander manier moet inneem tot die probleem opgelos is nie. “Indien die munisipaliteit nie binne 24 uur aandag aan hierdie kwessie gee nie sal AfriForum verdere stappe neem teen die munisipaliteit.”

“Hierdie voorval is net nog ’n bewys van die algemene munisipale verval wat die Noord-Kaap tans beleef. AfriForum gaan die huidige waterprobleem monitor en aanhou om druk op die regering toe te pas totdat daar ’n oplossing gevind word,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir omgewingsake by AfriForum.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by AfriForum om sodoende druk op die regering toe te pas om hulle verpligtinge teenoor die gemeenskap asook hul grondwetlike pligte na te kom. SMS “Upington” na 45344 (R1) om by hierdie tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings