|

AfriForum se Hessekwa-tak en TFR Sekuriteit help SAPD om verdagte aan te keer

AfriForum se Riversdal-protospan en TFR Sekuriteit het op Sondag 22 Januarie hulp verleen nadat ’n 75 jarige vrou verkrag en beroof is. Die span is deur ’n noodboodskap ontbied.

Die verdagte het toegang tot die bejaarde vrou se woonstel verkry deur haar te oortuig om vir hom oop te sluit. Nadat sy die deur oopgesluit het hy haar verkrag en beroof. Die slagoffer was so erg beseer dat sy nie alarm kon maak nie. Ná die insident het die verdagte haar in die woonstel toegesluit en met haar sleutels op die vlug geslaan.

Na ’n noodboodskap op die buurtwaggroep, het  lede van die protospan en TFR Sekuriteit hul na die toneel gehaas. Hulle het toegang tot die woonstel saam met die SAPS verkry waarna die vrou per ambulans na die hospitaal vervoer is.

Later die middag het die SAPD ’n wenk ontvang en met die ondersteuning van ’n hommeltuig, lede van die SAPD, die protospan en TFR Sekuriteit ontplooi en ’n soektog geloods wat tot ongeveer 02:00 Maandagoggend geduur het. Die soektog het egter niks opgelewer nie en is weer vroeg Maandagoggend hervat. Die verdagte het aanvanklik die spanne ontglip en in die bosse langs die N2-snelweg verdwyn. Die area is afgekordon en die verdagte is omstreeks 08:30 deur lede van die SAPD gearresteer.

“Hierdie is weereens ’n bewys dat wanneer ons kragte saamsnoer die kanse vir sukses eksponensieel verhoog. Ek bedank graag die mense wat gehelp het namens die gemeenskap,” sê Louis van der Walt, voorsitter van AfriForum se Hessekwa-tak.

“Dis hartroerend om te sien hoe ons gemeenskappe deesdae al hoe meer georganiseerd raak en betrokke is om hulle gemeenskap van misdadigers af terug te vat. Ons is, en bly eerstens vir ons eie veiligheid verantwoordelik en deur die SAPD te ondersteun, stop ons die agteruitgang van veiligheid in ons gemeenskap,” sê David Olivier, AfriForum se  distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings