|

Buurtwagte ontvang kritieke opleiding in hantering van misdaadtonele

Twee gesoute lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) – lt.kol. Albert Joubert en kol. Anton Oosthuizen ­– het vroeër vandeesmaand hul waardevolle kennis en ervaring rakende die korrekte hantering van misdaadtonele met buurtwaglede en sekuriteitspersoneel van George gedeel. Dié opleiding het kursusgangers met noodsaaklike basiese vaardighede en praktiese kennis oor dié kwessie toegerus. Buurtwaglede van AfriForum se George-tak, lede van die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en ander veiligheidsorganisasies het die opleiding ondergaan en kan nou die steun wat hulle aan die George-gemeenskap bied, selfs meer doeltreffend aanpak.

Die kursus het buurtwag-, GPF- en sekuriteitslede toegerus met kennis oor die korrekte prosedure wat op enige geweldsmisdaad- of ongelukstoneel gevolg moet word. Die opleiding het onder meer gewys op toneelafsperring en die korrekte insameling- en bewaringsproses van bewysstukke.

Volgens Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, is opleiding van dié aard onontbeerlik vir buurtwaglede. “Vanweë buurtwagte se uitgebreide vermoë en vinnige reaksietyd, is hulle dikwels eerste op ’n misdaadtoneel. Dit is juis daarom noodsaaklik dat hulle, totdat die SAPD of dergelike verantwoordelike wetstoepasser beheer van die misdaadtoneel kan oorneem, die regte prosedures volg ten opsigte van die beheer en bewaring daarvan,” verduidelik Erasmus.

“Ons is vasbeslote om George te beveilig en ons sal voortgaan om met die SAPD, GPF en ander rolspelers saam te werk om hierdie doelwit te bereik. Saam is ons sterker,” sê Èduan Naudé, voorsitter van AfriForum se George-tak.

“Dit is bemoedigend om te sien hoeveel ons kan bereik as ons saamwerk. AfriForum handhaaf ’n kultuur van samewerking en ons sal voortgaan om ’n betroubare vennoot vir die gemeenskap te wees,” sluit Erasmus af.

Om aan te sluit by AfriForum se George-tak of vir meer inligting, stuur ’n e-pos na voorsitter.george@afriforumtak.co.za of skakel ÈduanNaudé by 082 563 1439.

Soortgelyke plasings