|

AfriForum beteken hofstukke aan NERSA oor kragprobleme in Rustenburg

AfriForum se Rustenburg-tak het vandag (4 Desember) hofstukke aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) beteken om dringend die voortslepende probleme rakende elektrisiteitsvoorsiening in die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit op te los. Dit volg in reaksie op die aanhoudende kragonderbrekings wat Rustenburg ervaar weens swak onderhoud van dié munisipaliteit se elektrisiteitsinfrastruktuur.

Volgens AfriForum is die hofstukke aan NERSA beteken omdat die munisipaliteit nie voldoen aan die minimum standaarde wat kragtens die betrokke wetgewing vereis word en deur NERSA gereguleer moet word nie. AfriForum benadruk dat regstappe nou onafwendbaar is om sodoende druk op die energriereguleerder te plaas wat op sy beurt moet toesien dat die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit hul wetlike verpligtinge nakom.

“Die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit het ’n verpligting om basiese dienste aan hul inwoners te verskaf en dit is al wat die inwoners van Rustenburg versoek,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Marico-distrik.

“Ons pleit derhalwe nou vir verbeterde kommunikasiekanale, ’n doeltreffende stelsel vir die rapportering van elektrisiteitsfoute en -onderbrekings en vinnige én betroubare hersteltyd van kragonderbrekings. Die inwoners van Rustenburg verdien beter en ons sal nie rus totdat ons dit kry nie,” sluit Viljoen af.

Volgens Viljoen is AfriForum vasberade om die belange van die gemeenskap te beskerm en te verseker dat behoorlike elektrisiteitsvoorsiening in Rustenburg gehandhaaf word.

Soortgelyke plasings